OUDTSHOORN NUUS - Die Oppiespoor Aksiegroep het 'n uitnodiging om Woensdag aan 'n radiogesprek op EDENfm deel te neem, nie aanvaar nie en kon dus nie reageer op aantygings wat gemaak is en vrae wat gevra is nie.
Die radiogesprek was 'n uitvloeisel van 'n berig wat verlede Vrydag in die Oudtshoorn Courant oor Oppiespoor verskyn het nadat 113 inwoners van Uniondale te velde getrek het teen die werkswyse en leë beloftes van die groep.
Die Oudtshoorn Courant dek reeds sedert 2016 Oppiespoor se bedrywighede waar hulle teen betaling onderneem om sogenaamde surplusgelde vir mense op te spoor.
Daar kon egter tot dusver geen skriftelike bewyse bekom word dat sodanige uitbetalings reeds plaasgevind het nie.
Luisteraar na luisteraar het Woensdagoggend tydens die radiogesprek wat deur EDENfm se Morné Pietersen gelei is, boodskappe gestuur waarin hulle bevestig dat Oppiespoor nie beloftes oor uitbetalings nakom nie.
Na afloop van die gesprek het 'n hele aantal mense die kantore van die Oudtshoorn Courant besoek om hulle kwitansies te wys en hulle eie stories van leë beloftes te vertel.
Verskeie mense het ook die koerant geskakel en gevra dat 'n joernalis mense in Groot-Brakrivier, Mosselbaai, Haarlem en Knysna moet besoek omdat hulle soortgelyke ondervindings gehad het.
Die Oudtshoorn Courant het Oppiespoor reeds laat weet dat daar Maandag 3 Februarie weer 'n gesprek met mense in Uniondale en Haarlem gaan wees en weereens die groep genooi om deel te neem en vrae te beantwoord.
Intussen het ten minste drie mense bevestig dat hulle tans met die polisie in gesprek is om te bepaal wat hulle regte is.
Een persoon het ook reeds verlede jaar by die hof vir kleineise aangeklop om sy R570 registrasiegeld van Oppiespoor te verhaal. Volgens hom het Oppiespoor nooit die geregistreerde brief wat deur die hof aan hulle gestuur is, afgehaal nie en hy het nie geld om die brief deur die balju op hulle te laat beteken nie.
Tydens die radiogesprek het beide EDENfm en die Oudtshoorn Courant mense wat dalk wel uitbetalings ontvang het, genooi om die bewyse van die uitbetalings wat Oppiespoor se aandeel daarin bevestig, na die koerant te neem.
Lees vorige artikels:
- Oppiespoor-kwessie op radio
- Wanneer ontspoor Oppiespoor?
- Inwoners op spoor van Oppiespoor
- Geen spoor van Oppiespoor geld
- Vrae oor Oppiespoor se prokureursbrief
- Oppiespoor stel wanpersepsie reg
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'