Update
OUDTSHOORN NUUS - Herhaalde navrae van die Oudtshoorn Courant, wat sedert verlede jaar aan Oppiespoor Aksiegroep en hul prokureur Johan Wagener gestuur is, het uitgeloop op 'n dreigement van Wagener om die koerant namens sy kliënt van intimidasie aan te kla.
Oppiespoor Aksiegroep het die afgelope vyf jaar derduisende rande aan registrasiegeld ontvang om "te kyk of daar surplusgelde" vir mense is, en in die meeste gevalle word gesê dat hulle groot bedrae kan verwag, maar dit gebeur nie.
Volgens die audi alteram partem-beginsel word daar van die media verwag om alle kante van 'n saak te hoor voordat berig word. Dit is ter nakoming van hierdie beginsel dat navrae oor die wyse waarop Oppiespoor te werk gaan, asook beweringe dat hulle bewyse het van mense wat miljoene rande se uitbetalings ontvang het, by verskeie geleenthede aan Oppiepoor en Wagener gestuur is.
Terwyl Oppiespoor geen navraag beantwoord het nie, het Wagener 'n versoek gestuur dat hy nie weer vir kommentaar genader moet word nie.
In 'n skrywe vanaf Johan Wagener Ing, gedateer 5 Februarie, word die Oudtshoorn Courant ingelig dat geen verdere korrespondensie met die koerant gevoer sal word nie.
Die koerant word sewe dae gegee om getuienis, dat Oppiespoor "nie eerlik is in hulle optredes nie" aan die polisie voor te lê en 'n saak aan te meld.
By gebreke aan so 'n voorlegging, sê Wagener "sal ons aanvaar dat u nie oor sodanige besonderhede beskik nie, en sal 'n klag van intimidasie namens ons kliënt teen die Oudtshoorn Courant by die Oudtshoorn SAPD ingedien word".
Dit is onduidelik wat die aard van die klag moet wees, aangesien die koerant nie 'n benadeelde party is nie.
Die gronde vir 'n klag van intimidasie is ook nie duidelik nie aangesien die Oudtshoorn Courant sedert 2016 bloot voor elke berig, soos wat vereis word, navrae aan Oppiespoor stuur, maar nooit 'n antwoord ontvang nie.
Wat die Oudtshoorn Courant sedert 2016 egter met sekerheid kon vasstel en reeds berig het, is die volgende:
Oppiespoor het geen mandaat van Transnet of ander instellings om namens mense "surplusgelde" op te spoor nie.
Transnet het nie 'n pensioenafdeling wat kwansuis volgens Gert Mostert in 2016 'n afvaardiging na Oudtshoorn sou stuur nie, en daar was geen noodlottige botsing waarin lede van die afvaardiging omgekom het nie.
Alexander Forbes ontken ten sterkste dat hulle enigsins met of deur Oppiespoor werk, en mense wat by Alexander Forbes navraag gedoen het, is ingelig dat die maatskappy geen kennis dra van hulle, of enige gelde aan hulle verskuldig nie.
Honderde mense in dorpe soos Knysna, Uniondale, Fraserburg, Wellington, Haarlem, Oudtshoorn, George, Ashton en Caledon wat reeds sedert 2107 deur Oppiespoor ingelig word dat hulle geld gaan ontvang, het niks ontvang nie. Hulle het ook geen enkele oproep of enige korrespondensie van enige fondsbestuurder ontvang om aan te dui dat 'n proses aan die gang is om geld aan hulle te betaal nie.
Oppiespoor waarsku mense vooraf dat koerante oor hulle "lieg".
'n Brief wat deur Johan Wagener aan die media gestuur is waarin gesê word hy beskik oor 'n lys van uitbetalings van R4,9 miljoen in slegs twee maande in 2019, word deur Oppiespoor as bemarkingsmateriaal gebruik en navrae oor die aard van die lys is nie deur Wagener of Oppiespoor beantwoord nie.
Sogenaamde "surplusgelde" word aan mense beloof wat nog nooit aan enige fonds behoort het nie.
Daar is ernstige vrae oor die geheime nommers wat Oppiespoor skakel om binne minute te "bevestig" dat 'n persoon geld gaan ontvang.
Tot op datum kon geen koerant of radiostasie wat oor Oppiespoor berig het, enige bewyse kry van enige uitbetalings wat direk as gevolg van Oppiespoor se intervensie gedoen is nie.
Intussen het Oppiespoor se agente verlede week in Victoria-Wes aangeland en mense daar toegespreek. 'n Raadslid wat hulle optrede bevraagteken het en foto's van die aanbieder geneem het, is gevra om die saal te verlaat. Verskeie mense het ook tydens dié voorlegging registrasiegeld betaal met die belofte dat hulle teen Desember "surplusgelde" sal ontvang.
Verwante artikels:
- Oppiespoor afwesig oppielug
- Oppiespoor-kwessie op radio
- Wanneer ontspoor Oppiespoor?
- Inwoners op spoor van Oppiespoor
- Geen spoor van Oppiespoor geld
- Vrae oor Oppiespoor se prokureursbrief
- Oppiespoor stel wanpersepsie reg
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'