OUDTSHOORN NUUS - Verlede week se beriggewing oor die werkswyse van Opiespoor Aksiegroep het gelei tot ‘n radiogesprek wat Woensdag 29 Januarie tussen 08:00 en 09:00 op EDENfm uitgesaai word.
Verlede week is berig oor 113 mense van Uniondale wat ongelukkig is omdat Oppiespoor hulle aan die neus lei ten opsigte van sogenaamde surplusgelde wat hulle glo toekom.
Navrae wat aan Oppiespoor en aan hulle regsverteenwoordiger, Johan Wagener, gestuur is oor beweerde bewyse van uitbetalings sowel as inligting vanaf Alexander Forbes wat dit duidelik stel dat hulle geen kennis van Oppiespoor dra nie, is nie beantwoord nie.
Die Oudtshoorn Courant het verlede Donderdag ‘n uitnodiging om aan die radiogesprek deel te neem by Oppiespoor se kantore in die Johan Wagener-gebou in Kerkstraat, afgelewer. ‘n Uitnodiging deur EDENfm is ook persoonlik daar afgelewer.
Met die besoek van die Oudtshoorn Courant het een van Oppiespoor se werknemers, Alec, gesê hy gee nie toestemming vir ‘n radiogesprek nie en sal beslis nie daaraan deelneem nie.
Gert Mostert, die stigter van Oppiespoor, het op sy beurt teenoor EDENfm gesê die gesprek wat die Oudtshoorn Courant verlede Maandag met mense in Uniondale gehad het, was onder valse voorwendsels gereël om Oppiespoor in ‘n swak lig te stel.
In antwoord op die uitnodiging na die radiogesprek het Wagener per epos gesê hy stel nie belang in “goedkoop sensasie” nie en behou die reg voor om ‘n eis teen die koerant in te stel. Hy het ook die Oudtshoorn Courant gemaan om nie weer eposse aan hom te stuur nie.
Gedurende die radio-uitsending gaan die werkswyse van Oppispoor sedert 2016 bespreek word en daar sal moontlik ook geleentheid aan luisteraars gegun word om insette te lewer.
Lees vorige artikels:
- Wanneer ontspoor Oppiespoor?
- Inwoners op spoor van Oppiespoor
- Geen spoor van Oppiespoor geld
- Vrae oor Oppiespoor se prokureursbrief
- Oppiespoor stel wanpersepsie reg
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'