Update
OUDTSHOORN NUUS - Die Oudtshoorn Courant was verlede Maandag in Fraserburg in die Noord-Kaap nadat inwoners die koerant gekontak het oor Oppiespoor se beloftes aan die gemeenskap.
Volgens onderhoude wat met tien mense gevoer is, was Oppiespoor verlede jaar in Augustus, vanjaar in Februarie en weer in September op die dorpie wat gebuk gaan onder werkloosheid.
Die patroon wat gevolg word is presies dieselfde as wat Oppiespoor op talle ander dorpe die afgelope drie jaar reeds volg.
'n Kennisgewing word uitgestuur dat Oppiespoor mense kan bystaan om geld waarvan hulle nie bewus is nie, maar wat hulle toekom, sal opspoor.
Volgens 'n kennisgewing wat die Oppiespoor Aksiegroep byvoorbeeld op Ashton uitgedeel het is hulle 'n regte eenstop-hulpsentrum wat skynbaar toegang het tot vertroulike finansiële inligting van enigiemand wat by een van die volgende plekke gewerk het: Telkom, LAW, KLK, GWK, Waterwese, Alle Mynsektore, Staalfabrieke, PEP, Shoprite, Checkers, Spar, Pick n Pay en Food Zone.
Op ander dorpe het hulle ook mense wat by bosbou, seevisserye en skoenfabrieke gewerk het en selfs gewone plaaswerkers laat verstaan dat hulle geld mag ontvang. Een so 'n plaaswerker van Caledon wat met die media gepraat het, het gesê hy was nie bewus dat daar "so baie" geld vir hom wag nie, want hy het nooit tot enige pensioen- of voorsieningsfonds bygedra nie.
Voorbeelde van kwitansies en die bedrae wat Oppiespoor met 'n telefoonoproep bevestig het wat die persone glo sou ontvang.
Waar kry Oppiespoor hulle inligting?
Die kwessie wat die grootste vraag laat ontstaan is hoe die Oppiespoor Aksiegroep met slegs 'n enkele telefoonoproep kan vasstel dat Piet of Johan of Magriet wel geld geskuld word.
Want, dit is presies wat gebeur; 'n persoon nader Oppiespoor, gee sy of haar inligting, betaal registrasiegeld van R250 (dit was vroeër R200) en met een telefoonoproep na 'n onbekende nommer word binne minute "bevestig" dat daar geld is wat die persoon toekom.
In meeste gevalle op Fraserburg, en in die geval van mense op Knysna wat die koerant gekontak het, word selfs die bedrag wat verskuldig is op 'n stukkie wit papier geskryf en vir die mense gegee.
Op Fraserburg wag mense met groot vreugde op uitbetalings wat wissel vanaf R35 000 tot R151 000 en op Knysna is iemand meer as R180 000 belowe.
'n Verdere interessantheid is dat Oppiespoor-agente vir mense sê hulle kan hulle R200 of R250 registrasiegeld terugkry as die telefoonoproep toon dat daar nie geld is nie, maar dit blyk dat daar bitter selde indien ooit, iemand is vir wie daar nie 'n uitbetaling beskore is nie.
Die Oudtshoorn Courant het kwitansies van 'n gesin op Knysna wat reeds bykans R1 500 aan Oppiespoor betaal het en hulle nou tot 'n prokureur gewend het om uit te vind hoe regmatig is Oppiespoor se optrede.
Is Oktober die mooiste-rykste maand?
Fraserburgers wag intussen opgewonde vir 7 Oktober, want volgens hulle het Oppiespoor belowe om dan weer die dorp te besoek en dat mense dan hulle geld sal ontvang. Volgens 'n joernalis van die Worcester Standard, wat ook vroeër vanjaar 'n storie oor Oppiespoor daar gedoen het, is mense in Worcester ook belowe dat 7 Oktober die magiese uitbetaaldatum sal wees.
'n Persoon op Fraserburg, wat reeds verlede jaar sy tande geslyp het vir meer as R100 000 se uitbetaling, het egter gesê alles is slegs leë beloftes.
"Wat ek glad nie kan verstaan nie, is dat geen owerheid die moeite doen om te gaan kyk wat presies doen hierdie groep nie. Hier is mense wat geld gaan leen om die registrasiegeld te betaal, en dan leen hulle weer geld om 'n ekstra R70 vir nog 'n navraag te betaal."
Vorige e-posnavrae van die Oudtshoorn Courant aan Oppiespoor se kantoor en aan hulle prokureur waarin gevra word vir bewyse dat mense wel geld ontvang het, is nie beantwoord nie. Verlede week het die Oudtshoorn Courant weer die kantoor van Oppiespoor in die Johan Wagener-gebou op Oudtshoorn gebel.
Die oproep is deur 'n Meneer Baartman beantwoord wat gesê het: "Ek het niks om vir jou te sê nie."
Volgens 'n brief van 'n persoon op Knysna het iemand by Oppiespoor se kantoor glo vir hom gesê: "Jy kan maar na 'n prokureurtjie toe hardloop, ek praat nie verder met jou nie."
Lees vorige artikels:
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'