OUDTSHOORN - Twee vroue van Oudtshoorn, Leanda van den Berg (56) en Christina Gorgens (57), word deur Media24 hof toe gesleep na hulle na bewering Media24 se publikasies, wat boeke, tydskrifte en koerante insluit, op WhatsApp-groepe versprei het.
Die twee vroue was na bewering administrateurs van 'n WhatsApp-groep wat PDF-weergawes van die publikasies gratis versprei het.
Ishmet Davidson, uitvoerende hoof van Media24, het aan Oudtshoorn Courant gesê hulle het navorsing gedoen en die groepe deurentyd oor 'n tydperk van twee jaar gemonitor.
"Hierdie spesifieke groep was nie net een van die grootstes nie, maar ook een van die mees blatante in hul voortgesette verspreiding van Media24 se publikasies. Omdat die pleidooie en veldtogte blyk op dowe ore te geval het, het ons geen ander keuse gehad as om ons tot die hof te wend nie – en ons moes iewers begin," het hy verduidelik.
Volgens hom weet hulle nie waar die vroue aan die PDF-publikasies gekom het nie.
Davidson sê hulle het verskeie veldtogte gehad wat op alle verbruikers gemik was, met die hoofboodskap dat die onregmatige verspreiding van hul publikasies op diefstal neerkom.
"Die veldtogmateriaal het op al Media24 se platforms verskyn: In die gedrukte media (al ons koerante en tydskrifte), die digitale nuusdienste en op die televisiekanale wat ons bestuur."
In die hofstukke, wat in Oudtshoorn Courant se besit is, vra Davidson ondermeer die hof om 'n bevel uit te reik teen die twee vroue, dat hulle outeursregte wat aan Media24 behoort, geskend het toe hulle sonder toestemming die PDF-weergawes gedeel het.
Media24 het ook om 'n interdik aansoek gedoen wat die vroue sal verbied om verdere publikasies soos in die hofstukke genoem te versprei. Die interdik moet ook geld vir kunswerke en/of literêre publikasies wat nog nie gepubliseer is nie.
Van den Berg en Gorgens moet ook hul selfone waarop die groepe bedryf was aan Media24 se prokureurs oorhandig wat as bewysstukke gebruik sal word.
Luidens die hofstukke vra Davidson die hof om die vroue te beveel om die kostes van die hofsaak te betaal, sowel as enige finansiële verliese wat Media24 gely het. Davidson sê in die oorsig van die hofaansoek ondermeer dat elke keer as 'n PDF-weergawe van 'n publikasie gedeel word, dit 'n reproduksie van die literêre werk vorm waarin kopiereg bestaan. Dit sluit ook artistieke werke soos boekomslae, foto's ens. in.
"Die Kopieregwet 98 van 1978 behou hierdie aksies uitsluitlik vir die eienaars van die kopiereg voor. Die onregmatige deel van publikasies veroorsaak skade op baie maniere. Uitgewers, soos Media24, belê baie in die vervaardiging van sulke publikasies en die verhaling op hul belegging word nadelig beïnvloed wanneer verkope verminder word. Verkope verminder omdat mense wat die boek of publikasie wil lees, dit nie meer hoef te koop nie omdat hulle dit gratis kan kry. Dit is nie net die uitgewer wat skade ly nie, maar so ook die skrywer, redakteur, proeflesers ens," lui 'n deel uit die oorsig.
Die respondente het tyd tot 18 Januarie 2024 om aan te dui of hulle die saak gaan verdedig.
Oudtshoorn Courant het beide vroue vir kommentaar genader. Beide het gesê dat hulle nie op die stadium kommentaar gaan lewer nie.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’