OUDTSHOORN NUUS - 'n Nuwe komitee vir die Vriende van die Museum is onlangs verkies nadat die lede van CP Nel-museum se raad van trustees die een na die ander bedank het.
Volgens Hazel Jonker, voormalige lid van die raad van trustees en ook die huidige voorsitter van die Vriende van die Museum-komitee, het die vorige raad van trustees bedank oor die ongerymdhede wat tans by die CP Nel-museum aan die gang is.
Oudtshoorn Courant het vroeër die jaar berig dat daar 'n provinsiale forensiese ondersoek oor verskeie bewerings rakende die museum, insluitend die kwessie van die museum se finansiële stand, aan die gang is.
Dié ondersoek is steeds aan die gang.
"Hoewel daar altyd 'n komitee vir die Vriende van die Museum was, was ons liggaam nooit erken nie," sê Jonker.
"Ons is deur die departement genader en gevra om 'n spesiale vergadering te belê waarin ons 'n amptelike komitee kan stig. Intussen het hulle ook op hul webtuiste geadverteer en nominasies gevra sodat 'n nuwe raad van trustees saamgestel kan word."
Volgens haar bestaan so 'n raad gewoonlik uit verteenwoordigers van die gemeenskap, die munisipaliteit, en die distriksmunisipaliteit.
"Ons het ons nominasies ingedien, en die munisipaliteit het reeds hulle verteenwoordigers voorgestel. Die nuwe raad van trustees behoort eersdaags bekendgestel te word.
"Die raad se werk is om te verseker dat die sake by die museum glad verloop en dat die finansies reg spandeer word terwyl die Vriende van die Museum slegs 'n ondersteunende rol speel."
Die nuwe komitee van die Vriende van die Museum is:
Hazel Jonker (voorsitter), Ilse Meyer (ondervoorsitter), Christo Smit (tesourier), Lorraine Maritz (sekretaris) en Roydin Engelbrecht (addisionele lid).
Vorige artikels oor die museum:
- Lock gate halts meeting
- Museum bestuurder se skorsing gelig
- Museum bestuurder tydelik geskors
- Museum se finansies onder vergrootglas
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’