Update
OUDTSHOORN NUUS - Cango Wildlife Ranch het onlangs twee nuwe toevoegings tot hul dierefamilie gekry.
Die Ranch is nou die nuwe tuiste van 'n kritiek bedreigde Afrika-witrug-aasvoël en 'n bedreigde swart aasvoël (lappet-faced) en, volgens Mari-Lize Warrington, bemarkingsbestuurder van die Ranch, pas die twee mannetjies mooi by die twee wyfie Kaapse aasvoëls in.
Die Oudtshoorn Courant het in Oktober vanjaar berig oor die aasvoëlbewusmakingsveldtog wat deur die Ranch se soogdier- en voëldieretuinhouer, Delano Mulder gedryf is.
Mulder het 48 uur in die bloedige hitte saam met die Ranch se vier aasvoëls in hul kamp geslaap om bewusmaking oor die bedreigde spesies te skep.
Deel van sy bewusmakingsaksie was om gelde te in om twee mannetjie Kaapse aasvoëls na Vulpro, 'n aasvoël bewaringsinstansie in Hartebeespoort te neem.
Die mannetjies sal deel uitmaak van Vulpro se teelprogram en daar is ook 'n moontlikheid dat die voëls weer in die natuur vrygelaat kan word.
Warrington sê die swartaasvoël is die grootste van die drie spesies wat hulle tans huisves.
"Die kleinste ene is die Afrika-witrug-aasvoël. Hulle is die mees algemene aasvoël in Afrika."
Die kritiek bedreigde Afrika-witrug-aasvoël. Foto's verskaf
Lees 'n vorige artikel: Aasvoël-bewusmakingsveldtog
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'