OUDTSHOORN NUUS - Janien Muller, 'n gr. 11- leerder van Langenhoven Gimnasium, het weereens 'n merkwaardige mylpaal in haar kunsloopbaan bereik.
Sy is einde Oktober as die nasionale kategoriewenner in die Motif-kategorie by die gesogte Marshmallow Excello-kompetisie aangewys, wat haar 'n uitnodiging na die organisasie se jaarlikse uitstalling in Pretoria besorg het.
Die uitstalling sal in Januarie 2025 by die Pierneef-teater plaasvind en bied haar die geleentheid om haar werk aan 'n breër gehoor bekend te stel.
Janien se eie kinderboek
Benewens haar sukses in die kunswêreld het Janien ook besluit om haar eie kinderboek, Where is my Rainbow?, te skryf en te illustreer. Die verhaal, wat fokus op pragtige herinneringe uit haar kinderjare, vertel die verhaal van Iris, 'n jong meisie op soek na geluk, aanvaarding, hoop en vreugde - haar eie "reënboog."
Berandien Serfontein, Janien se ma, verduidelik dat die idee vir die boek oorspronklik by haar vakadviseur ontstaan het, wat haar uitgedaag het om 'n kinderboekie te skryf en te illustreer.
'n Uittreksel uit haar boek.
"Janien het die uitdaging aanvaar en besluit om die boekie as 'n projek aan te pak. Ons het besluit om dit te laat druk sodat sy die inkomste daarvan vir haar studies in 2026 kan gebruik."
Verlede jaar het sy die illustrasies vir die boek Milka en Sebastiaan, saam met skrywer Charmaine Beneke, gedoen. Maar met Where is my Rainbow? het sy self die pen en kwas opgeneem om die hele projek te voltooi.
Barendien verduidelik dat die boek nie deur 'n uitgewer uitgegee word nie en dat hulle die boekie op bestelling laat druk.
Die boekie kos R200 en bestellings kan geplaas word deur 'n WhatsApp-boodskap na 082 667 9289 of 'n e-pos na barendiens@gmail.com te stuur.
Lees vorige artikels hier:
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’