OUDTSHOORN NUUS - Die jong, nederige, plat-op-die-aarde Oudtshoorn-kunstenaar, Janien Müller (16), is weer in die nuus nadat sy as een van drie Suid-Afrikaanse kunstenaars gekies is wat 'n internasionale kunskompetisie gewen het, wat beteken dat haar kunswerke oorsee uitgestal sal word.
Protea Boekhuis, het tesame met etlike internasionale boekuitgewers 'n kompetisie, Picture This!, vir illustreerders om karakters te skep geloods.
FOTOGALERY: Janien Müller se kuns skitter internasionaal
Janien is die jongste wenner algeheel, en die enigste uit die Wes-Kaap. Die ander twee Suid-Afrikaners kom uit Gauteng. Die ander wenners kom uit Japan en Bulgarye.
Die kompetisie het inskrywings vanaf onder meer Nederland, die Verenigde Koninkryk, Duitsland en Frankryk ontvang. Janien is die jongste wenner uit die groep illustreerders en haar kunswerke sal boonop binnekort in die buiteland uitgestal word tydens verskeie uitstallings.
Die kompetisie is juis spesifiek gemik op illustreerders.
Janien het met haar inskrywing 'n alternatiewe weergawe van die bekende Rooikappie ingedien.
In haar weergawe is Rooikappie 'n hasie, die wolf is natuurlik 'n wolf, en die houtkapper word uitgebeeld as 'n werklike houtkapper (die voël).
Haar inspirasie hiervoor kom reeds uit haar vroeër jare as ontluikende kunstenaar, voor sy enige bekendheid verwerf het.
Janien het in September, met die eindronde van die nasionale Con Spirito-eisteddfod, met nie minder as drie toekennings as itemwenner weggestap. Sy is aangewys as itemwenner in die kuns gemengde medium-afdeling (99%), kuns kleurpotlood-afdeling (99%) én kuns olie en pastel-afdeling (95%). Boonop het sy die algehele tweede plek vir kuns in hierdie nasionale kompetisie gewen.
Oor haar internasionale prestasie is Janien baie beskeie en opgewonde. Sy is alreeds deur 'n hele paar nasionale mediahuise en radiostasies genader vir onderhoude, juis omdat sy so jonk is. Sy het waterverf en fine liner (fyn penne) gebruik om haar kunswerke te skep. "Dit was baie lekker, en dis nog meer opwindend dat dit internasionaal is. Ek het ook prestige-kleure by die skool ontvang by ons onlangse prysuitdeling."
Haar toekoms is nou kleurvol en absoluut oop. Met haar kunswerke wat oorsee uitgestal gaan word, met uitgewers van oral wat dit kan sien, weet niemand waarheen Janien se talent haar sal neem nie.
Van Janien se karakters wat sy geskep het.
Foto's: Verskaf
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’