OUDTSHOORN NUUS - Adriaan (Attie) Deyzel (65), die man wat in April deur die provinsiale polisie se eenheid teen bendegeweld op verskeie wapenverwante klagtes in hegtenis geneem is, het Dinsdag weer in die Oudtshoorn-landdroshof verskyn.
Die staatsaanklaer, Leonie van Rooyen, het die hof meegedeel dat daar nog klagtes is wat bygevoeg kan word.
Volgens Van Rooyen is die ballistiese uitslae reeds voltooi, maar moet die vuurwapenregister nog voltooi word.
Christo van der Bergh, Deyzel se regsverteenwoordiger, het aan die hof gesê dat dit 'n dik dossier is en hy genoegsame tyd nodig het om hulle ondersoek te voltooi.
Deyzel is 'n finansiële adviseur op Oudtshoorn.
Hy is by sy huis buite Dysselsdorp in hegtenis geneem na die polisie sy huis deursoek het en verskeie wapens en ammunisie gevind het. Volgens die klagstaat, wat die Oudtshoorn Courant gelees het, staan Deyzel tereg op drie aanklagte wat verband hou met vyf vuurwapens en meer as 2 000 patrone en ammunisie.
Die drie aanklagte is die onwettige besit van vuurwapens sonder 'n lisensie, besit van ammunisie (ongeveer 2 700) sonder 'n permit, lisensie, handelaarslisensie, vervaadigerslisensie of wapensmidlisensie sowel as die besit van patrone sonder die nodige lisensies.
Hy is in Mei op borgtog van R10 000 vrygelaat.
Landdros Roelf Konstabel het die saak na 22 Oktober uitgestel en Deyzel se borgtogvoorwaardes is tot dan verleng.
Lees vorige artikels hier:
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'