OUDTSHOORN NUUS - Die provinsiale polisie se eenheid teen bendegeweld het verlede Vrydag 'n Oudtshoorniet op verskeie wapenverwante klagte in hegtenis geneem.
Die 64-jarige Adriaan Deyzel (Attie) verskyn vandag vir 'n borgtogaansoek in die hof nadat hy tydens 'n klopjag op sy plaashuis naby Dysselsdorp in hegtenis geneem is. Hy is sedert sy eerste verskyning Maandag in aanhouding.
Kapt. Malcolm Pojie, Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, het gister gesê: "Dit was 'n intelligensie gedrewe operasie en 'n lasbrief vir die deursoeking van sy woning op Weltevrede in die Dysselsdorp-distrik is bekom."
Volgens die klagstaat, wat die Oudtshoorn Courant gelees het, is daar drie klagte wat verband hou met vyf vuurwapens en meer as 2 000 patrone en ammunisie. Pojie sê egter in sy reaksie dat ongeveer 30 wapens gekonfiskeer is. Onbevestigde inligting dui daarop dat onderdele van vuurwapens, soos geweerlope, deel is van die wapenvoorraad wat gevind is.
Die drie aanklagte is die onwettige besit van vuurwapens sonder 'n lisensie, besit van ammunisie (ongeveer 2 700) sonder 'n permit, lisensie, handelaarslisensie, vervaadigerslisensies of wapensmidlisensie sowel as die besit van patrone sonder die nodige lisensies.
Volgens 'n anonieme bron is dit glo algemeen onder vuurwapeneienaars bekend dat Deyzel aan vuurwapens werk en hom as wapensmid voordoen alhoewel hy tans nie as sodanig geregistreer is nie.
Pojie het nie 'n navraag oor 'n soortgelyke klagte van 2017 beantwoord nie. Volgens inligting wat bekom is, is verskeie vuurwapens ook in 2017 in Deyzel se besit by 'n huis in Oudtshoorn gevind.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'