Update
OUDTSHOORN NUUS - Adriaan (Attie) Deyzel (65), die man wat in April deur die provinsiale polisie se eenheid teen bendegeweld op verskeie wapenverwante klagtes in hegtenis geneem is, is Dinsdag borgtog van R10 000 in die Oudtshoorn-landdroshof toegestaan.
Deyzel is 'n finansiële adviseur op Oudtshoorn.
Volgens die klagstaat, wat die Oudtshoorn Courant gelees het, is daar drie aanklagte wat verband hou met vyf vuurwapens en meer as 2 000 patrone en ammunisie.
Die drie aanklagte is die onwettige besit van vuurwapens sonder 'n lisensie, besit van ammunisie (ongeveer 2 700) sonder 'n permit, lisensie, handelaarslisensie, vervaadigerslisensies of wapensmidlisensie sowel as die besit van patrone sonder die nodige lisensies.
Die ondersoekbeampte in die saak, ao. André Arendse van die provinsiale polisie se eenheid teen bendegeweld, het vir die staat getuig en het borgtog teengestaan.
Volgens hom was daar in 2017 'n soortgelyke saak teen Deyzel, maar die staat het die saak teruggetrek. Hy het gelas dat dié klagtes weer ondersoek word, maar nog nie by die nuwe klagstaat gevoeg is nie.
Volgens Arendse se getuienis het die polisie in 2017, 58 wapens by Deyzel woning gekonfiskeer. Van die wapens het glo nie reeksnommers gehad nie en is vir ballistiese toetse weggestuur.
Arendse het getuig dat Deyzel 'n besigheid in die Oos-Kaap gehad het waar hy met wapens en ammunisie handel gedryf het. Die besigheid se lisensie het egter in 2008 verval en hy het dit nie weer hernu nie.
Die polisie het op 29 Maart 'n lasbrief na Oudtshoorn gebring en Deyzel by sy werk gaan haal waarna hulle na sy woning net buite Dysselsdorp is.
Arendse het getuig dat Deyzel aanvanklik gesê het dat hy geen wapens in sy besit het nie, maar op pad na sy huis het hy aan 'n kolonel erken dat hy wel wapens by sy huis het.
Hier het hulle 'n groot hoeveelheid vuurwapens en ammunisie gekry. Volgens hom is daar onder meer ook geweerlope gekry waarmee 'n wapen gemaak kan word en is alles vir analise weggestuur.
Op 25 April het hulle inligting ontvang dat daar nog twee wapens in Deyzel se huis versteek is. Die polisie het glo weer die huis deursoek en een wapen in sy motor en een in die huis gekry.
Arendse het ook getuig dat daar 700 inskrywings op 'n vuurwapenregister is wat aan Deyzel behoort. Volgens hom is daar egter wapens gevind wat nie op die lys is nie en op die lys is wapens aangeteken wat nie fisies in sy huis was nie.
Arendse het aangedui dat daar 'n moontlikheid is dat van die vuurwapens met bendegeweld verbind kan word. Volgens hom is hulle egter steeds besig om dit te ondersoek.
Hy het verder gesê dat daar 'n groot moontlikheid is dat Deyzel weer in 'n soortgelyke misdryf betrokke kan raak omdat hy nou 'n tweede keer vir so iets gevang is en dat hy nie eerlik met die polisie was nie.
Christo van der Bergh, Deyzel se regsverteenwoordiger, het gesê dat sy kliënt verskeie gesondheidskwessies het en dat hy nie die regte medikasie in die tronk ontvang nie. Daar is ook glo nie na 16:00 mediese dienste beskikbaar nie.
Van der Bergh het verder gesê dat sy kliënt sy samewerking aan die polisie gegee het, sy paspoort sal indien as dit nodig is, en al die hofsake bywoon.
Van der Bergh het ook gesê dat Deyzel steeds sy werk het en indien hy nie borgtog toegestaan word nie, sy kliënt sy werk gaan verloor.
Landdros Roelf Konstabel het borgtog op streng voorwaardes toegestaan. Deyzel moet Maandae en Vrydae by die polisiestasie aanmeld, hy moet sy paspoort indien en nie met getuies inmeng nie.
Deyzel mag ook nie die distrik verlaat sonder om die ondersoekbeampte in kennis te stel nie.
Lees 'n vorige artikel: Man gearresteer oor wapens
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'