PRINS ALBERT NUUS - Meer as 100 mense het Maandag die opening van die Outa Lappies-kamer in die Fransie Pienaar-museum in Prins Albert bygewoon.
Dié vertrek, wat sedert verlede jaar beplan is, is aangebou en ingerig ter ere aan die bekende kunstenaar Jan Schoeman wat in 2011 oorlede is.
Hy was bekend vir sy "iets uit niets"-kunswerke sowel as sy kleurryke kleredrag wat van laslappies gemaak is.
Die opening is waargeneem deur die Wes-Kaapse minister van kultuursake en sport, Anroux Marais. Die projek is bestuur deur die museumbeheerraad, die Prins Albert-kultuurstigting, die Prins Albert-toerismevereniging, Bodo Toelstede (Outa Lappies se destydse agent) en die kunstenaar Lizelle Kruger. Lydia Barrella, museumkurator, was aan die stuur van die reëlings.
Sy het aan Oudtshoorn Courant gesê ná Schoeman se dood was baie mense bekommerd oor wat van sy werke in sy huis op Prins Albertweg sou word. "Ons het gehoop om die huis in 'n museum te omskep, maar die vraag was altyd: Wie beman en bestuur dit? Die Spoorvervoeragentskap van Suid-Afrika, Prasa, wou toe die huis terughê en die museumbeheerraad het besluit om alles te gaan haal. Alles is tot by die museum gebring en hier gestoor.
Ná gesprekke tussen Toelstede en Schoeman se kinders is die kunswerke aan die Prins Albert Opvoedkundige- en Erfenistrust oorgedra.
Volgens Barrella het die museum ook reeds van sy kunswerke besit, maar sommige in private besit is ook aan die museum geskenk om alles as 'n eenheid, uit te stal. Die finansiering is moontlik gemaak deur 'n erflating van R100 000 deur 'n inwoner van Prins Albert, Mirka Urbanc, wat drie jaar gelede gesterf het.
Barrella, wat Schoeman goed geken het, het gesê hy was 'n sterk en kleurvolle karakter. Hy was altyd vriendelik, het respek vir alles en almal gehad met 'n groot liefde vir die natuur en vir sy katte. Sy groot filosofie was om 'iets uit niets' te maak, om 'nie bakhand te staan nie' en 'as elkeen vir homself sorg, dan is daar vir almal gesorg'. Dit was presies hoe hy geleef het.
"Later, as buitestaanderkunstenaar, het hy die dorp bekendgemaak en toeriste van oor die hele wêreld gelok. Hy was 'n man wat eenvoudig grootgeword het. Hy het self vertel hy het net tot 'standerd twee-en-'n-half' skoolgegaan. Desondanks was hy wêreldwyd bekend vir sy kuns en wyshede."
Volgens Barella voorsien sy dat die Outa Lappies-vertrek besoekers na die dorp sal lok, net soos die Helen Martin-uilhuis in Nieu-Bethesda.
Marais het gesê dié museum, wat drie jaar gelede as die beste kleinmuseum in die Wes-Kaap aangewys is, "is 'n museum vir almal. Dis 'n plek wat elkeen van ons se verlede huisves - die prehistoriese tyd toe die Karoo 'n see was, toe die Khoi- en San-mense hier gewoon het, toe die eerste wit mense hulle in 1762 hier kom vestig het, toe Prins Albert sy naam in 1842 gekry het en daarna sy hartseer geskiedenis beleef het met die verwydering van bruin mense uit sekere dele van die dorp. En nou is 'n vertrek ingerig om eer te bring aan Outa Lappies, 'n legendariese figuur. Sy nagedagtenis inspireer 'n nuwe geslag. Die Fransie Pienaar-museum is voorwaar 'n museum waarop elkeen van ons baie trots kan wees".
Vir verdere inligting kontak die Fransie Pienaar-museum in Kerkstraat by 023 541 1172.
Alfred Voetpad (90), groot vriend van Outa Lappies, en Outa Lappies se dogter, Amina Erasmus, praat oor die ou dae by die opening van die Outa Lappies-vertrek in die Fransie Pienaar-museum. Foto's: Barry Lamprecht
'Ons bring jou die nuutste Prins Albert, Klein Karoo nuus'