Gallery
OUDTSHOORN NUUS - 'n Monument ter herdenking aan die 500 Poolse kinders en hul versorgers wat in 1943 in Oudtshoorn gehuisves is, is op Erfenisdag, 24 September, amptelik onthul.
In aansluiting hierby is daar ook 'n spesiale Poolse uitstalling in die museum ingerig, terwyl 'n nuwe Poolse Erfenisroete in samewerking met Oudtshoorn- en De Rust-toerisme as toeriste-trekpleister bekendgestel is.
Spesiale erkenning is tydens die seremonie gegee aan vier van die oorlewende kinders: Felix 'Kawa' Vaskys, Stanislaw Niekrasz, Robert Magda en Wanda Okreglicki. Hulle het die erelint geknip waarna kranse by die monument gelê is.
'n Poolse afvaardiging het die geleentheid bygewoon. Dit het onder meer die adjunkminister van Pole, Henryka Moscicka-Dendys, direkteur van die Poolse Diaspora, Anna Sochanska, Jacek Chodorowicz, Poolse ambassadeur in wagting, en Robert Rusiecki ingesluit.
Oudtshoorn word internasionaal erken as die spirituele tuiste van die groep Poolse weeskinders, bekend as die Oudtshoornacy of Sybiracy.
Fotogalery: Poolse monument onthul by CP Nel-museum
Tatiana Solomon, projekbestuurder, sê die monument eer nie net die Poolse kinders nie, maar ook die Oudtshoorn-gemeenskap wat destyds aan hulle 'n heenkome gebied het. Sy vertel dat plaaslike inwoners hul huise vir die kinders oopgestel het en selfs Pools aangeleer het. "Die gemeenskap wil dié verhale bewaar, en die CP Nel-museum bied nou 'n permanente tuiste vir hierdie geskiedenis."
Poolse geskiedenis in 'n neutedop
In 1943 het die Londense regering, met toestemming van generaal Jan Smuts, 500 Poolse kinders na Suid-Afrika gestuur. Nadat hulle as oorloggevangenis aangehou is in die suidelike Sowjet Republieke is hulle per SS Dunera na Suid-Afrika en het op 10 April 1943 in Port Elizabeth aangekom. Hulle is later na Oudtshoorn in die Wes-Kaap oorgeplaas. Daar is 'n kamp gevestig om vir hulle tydelike verblyf, sorg en opvoeding te bied.
Die kamp het gou 'n lewendige gemeenskap geword, bekend as 'Klein Pole', waar kinders, versorgers en personeel 'n ondersteunende omgewing geskep het. Baie van die Poolse gemeenskapslede in Suid-Afrika kan hul afkoms naspeur na hierdie kinders, wat later bygedra het tot die land se ontwikkeling.
Die kultuurerfenis van die kinders leef voort: sommige het 'n blywende band met hul kultuur geskep, soos Stefan Adamski, wat 'n kopie van die Swart Madonna-ikoon vir die plaaslike katedraal geskilder het.
Beide die CP Nel-museum en die plaaslike katedraal het permanente uitstallings oor hierdie geskiedenis.
Tweejaarlikse byeenkomste van die "Oudtshoornians", soos die kinders soms genoem word, help steeds om hul gedeelde verlede te onthou en die gemeenskap te verbind.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’