OUDTSHOORN NUUS - Twee families betree die Kersseisoen in rou ná 'n 26-jarige man buite De Rust doodgery is en 'n 34-jarige man in Bridgton doodgesteek is.
Doodgery
Faizel Okkers (26), 'n enkelouer van 'n vyfjarige seuntjie, is Vrydagaand, 21 No-vember, omstreeks 20:00 op die N12 naby Asla buite De Rust doodgery.
Okkers se familie beskryf sy dood as 'n geweldige skok. Sy broer, Aubrey, sê hulle wag op die nadoodse ondersoek voordat begrafnisreëlings getref kan word.
"Faizel was vriendelik en altyd met 'n glimlag. Hy laat 'n groot leemte," sê hy.
Volgens sy broer, Conrad, het Faizel die middag van Swellendam af by die huis aangekom. Hy was glo te voet op pad De Rust toe en kort daarna het die familie gehoor dat hy raakgery is.
"Toe ek op die toneel kom, was hy reeds dood. Ons wag nog vir die speurder om ons te kom sien. Hy sou in Januarie as voorman op 'n plaas begin werk," vertel Conrad.
Okkers word oorleef deur sy ma, Roseline, drie broers, drie susters en sy vyfjarige seun, Kayden.
Volgens sers. Chris Spies, Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, het die polisie 'n saak van strafbare manslag geopen.
"Inwoners het die polisie gekontak en gemeld dat daar 'n man raakgery is. By die toneel is die slagoffer met veelvuldige beserings aangetref en is later deur paramedici dood verklaar. Die omstandighede word steeds ondersoek, en geen arrestasies is tot dusver gemaak nie," sê Spies.
Moord
Maxwill 'Mekkie' Pietersen (34), 'n inwoner van Kiewietjielaan, Bridgton is Saterdag doodgesteek.
'n 16-jarige, wat nou bande met die familie het, is vir die moord in hegtenis geneem.
Hy het op 26 November in die hof verskyn.
Volgens Pietersen se familie maak die verbintenis tussen die seun en hul familie Pietersen se dood geweldig traumaties.
'n Stryery tussen die verdagte en Pietersen het glo tot die steekvoorval gelei. Niemand is presies seker waaroor die uitval gegaan het nie.
"Die seun is goed grootgemaak en kom uit 'n goeie huis. Ons is erg geruk deur wat gebeur het, maar ons ondersteun hom en hoop hy kry borgtog," het 'n familielid van Pietersen gesê.
Volgens Spies het die voorval omstreeks 07:40 plaasgevind en is die oorledene met steekwonde aan sy bors aangetref en op die toneel dood verklaar. Leon Campher van OCAC sê die voorval is, "weereens een moord te veel". Die organisasie sal die familie bystaan en beoog 'n kranslegging Donderdag 27 November op die plek waar die moord gepleeg is. Finale begrafnisreëlings is nog nie getref nie.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’