OUDTSHOORN NUUS - Bekende skrywer en joernalis, MC Botha gesels op 2 April oor sy nuutste boek, Dienaar van die waarheid.
Botha is redakteur van Hermanus Times en het ’n wye reeks, dramas, kortverhale, romans en reisverhale geskryf.
Dienaar van die waarheid is ’n biografie wat handel oor Botha se pa, oud-appèlregter, AS Botha.
Volgens Botha is die ’n wydlopende werk oor die herkoms, loopbaan en filosofieë van een van die land se bekende en gerespekteerde regsgeleerdes. Hy skryf in die boek oor onder andere sy suster se liefdesverhouding en latere troue met ’n Indiër, ’n beskuldigde in ’n sogenaamde terroristeverhoor in die Paleis van Justisie in die 1970’s.
Die verhouding toe was ’n oortreding van die Ontugwet, wat die paartjie genoop het om formeel aansoek te doen vir politieke asiel in Londen. In die boek word hierdie verwikkelinge aangespreek deur talle intieme briewe tussen pa en dogter rondom kwessies soos vryheid, rebelsheid, geregtigheid en die gewapende stryd.
Die rolle wat die destydse eerste minister, John Vorster, en die hoof van die Buro van Staatsveiligheid, genl. 'Lang Hendrik' van den Bergh, agter die skerms gespeel het, word ook belig.
Onderhoude in die boek sluit in dié met oudkollegas soos Louis Harms, Peet Nienaber, Craig Howie, Pik Botha, Rit van Rooyen, Piet van der Walt en Chris de Jager.
Dienaar van die waarheid neem die leser aanvanklik terug tot by die eerste Suid-Afrikaans gebore voorsate van die Bothas in die 17de eeu, ’n onkonvensionele, avontuurlustige klomp wat geen erg aan die Kaapse bewindhebbers het nie en van die eerste is om uit die Kolonie pad te gee en hulle anderkant die Breërivier en die Gouritsrivier tussen Khoi-San-stamme te gaan vestig.
Boekgesprek
Die gesprek vind op 2 April om 18:00 by The Bohemian Café plaas. Besprekings kan by 078 877 9561 gemaak word.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’