OUDTSHOORN NUUS - Die vrou wat verlede week vir Colleen Smith van ODIN (Oudtshoorn Dogs in Need) geslaan het, sê sy wil graag haar kant in die hof gaan stel.
Die voorval het verlede Woensdag omstreeks 18:00 by 'n huis in Kruidstraat plaasgevind. Volgens Smith het sy op 'n klagte reageer dat honde sonder kos en water by die huis is en aanhoudend blaf.
By die huis is 'n Jack Russell aan die voorkant van die huis gevind en 'n spanjoel was op die agterstoep toegemaak. Op 'n video wat sy geneem het is die area waar die spanjoel was, met ontlasting besaai. Smith het die twee honde verwyder en is later terug na die huis toe nadat die ma van die eienaar van die spanjoel haar gebel het.
Volgens Smith het die vrou aggressief geraak en haar met die vuis bygedam. Smith het 'n klag van aanranding by die polisie gelê. "Ek het magtiging van die landdros om in die uitvoering van my pligte eiendomme te betree en diere weg te neem as daar bevind word dat hulle omstandighede nie geskik is nie, en dit is wat ons gedoen het."
Volgens die vrou wat vir die honde verantwoordelik is, was sy woedend toe sy Woensdagmiddag by die huis kom en deur 'n buurman ingelig is dat iemand van die skut die honde verwyder het.
Die vrou sê sy het Smith gebel om aan haar te verduidelik dat dit haar seun se hond is."My ander seun was hier by die huis toe ek haar gebel het. Ek wou vir haar wys waar die honde se kos is en waar hulle altyd slaap, maar toe sy hier aankom wou sy nie na rede luister nie," het die vrou gesê.
Volgens haar het sy haar humeur verloor omdat Smith nie na rede wou luister nie en haar in die huis gegryp en geklap. Sy sê sy ontken nie dat sy handgemeen geraak het nie, en wil graag haar kant van die storie in die hof vertel omdat sy voel die hond is onregmatig verwyder.
Teen eergister was die Jack Russell aan die vrou terugbesorg, en Smith was in gesprek met die eienaar van die spanjoel om te bepaal of die hond teruggegee sal word.
"Ek is besig om met hom te gesels oor die saak en verduidelik waarom die hond weggeneem is, maar ek gaan beslis voort met die aanrandingsaak," het sy Woensdag gesê.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'