OUDTSHOORN NUUS - Suid-Afrika vier vandag, 8 Mei, 'n eeu sedert Afrikaans in 1925 as amptelike landstaal erken is. Hoewel die taal al lank voor dit bestaan het, was dit eers met die wysiging van die Grondwet dat Afrikaans amptelik, langs Engels, in die plek van Nederlands erkenning gekry het.
In Oudtshoorn word dié mylpaal op verskeie maniere gevier. By Laerskool Laurus bring leerders hul eg Afrikaanse kosblikkies skool toe, terwyl 'n spesiale program by Arbeidsgenot, die voormalige woning van CJ Langenhoven, aangebied word.
Die dag skop af met begeleide toere deur die geskiedkundige huis, aangebied deur Langenhoven-kenner Mariana Swanepoel. Dié toere vind plaas om 10:00, 11:00, 12:00 en 13:00 teen slegs R20 per persoon. Geen voorafbespreking is nodig nie.
Om 14:00 vind 'n kort seremonie plaas waartydens die landsvlag gehys word, gevolg deur die simboliese aanplant van drie katjiepeiringbome deur die hoofleiers van Hoërskool Langenhoven (Riversdal) en Langenhoven Gimnasium (Oudtshoorn). Hoërskoolhoofleiers van regoor die Groter Oudtshoorn is ook uitgenooi om dié middagverrigtinge by te woon.
Teen 15:00 kry leerders die kans om Arbeidsgenot gratis te besigtig.
Afrikaans se geskiedenis
Khoi-Afrikaans dateer reeds van 1595. Toe daar in 1625 'n permanente halfwegstasie aan die Kaap opgerig is, was Khoi-Afrikaans reeds gevestig en dus die eerste periode in Afrikaans se geskiedenis.
1671: Daar word aangeteken dat die Hollands wat aan die Kaap gepraat word, nie meer soos die taal in die stamland klink nie. Die oorspronklike naam vir Afrikaans was Afrikaans-Hollands oftewel Hollands van Afrika.
1800 - 1875: Navorsers vind dat daar verskillende variëteite in die Kaap gepraat word wat Nederlands, Kaaps-Hollands, Boere Hollands of Boere Afrikaans, Plat Kaaps, Hottentot Hollands, Slawe-Afrikaans en Vreemdeling Afrikaans insluit.
1806: Met die tweede Britse oorname het Engels geleidelik die amptelike voertaal aan die Kaap geword en is daar gepoog om Nederlands en Afrikaans te verdring.
1807: Altesaam 375 slawekinders ontvang teen 1807 hulle godsdiensonderrig in Kaapse Afrikaans. Een van die leermetodes was om die heilige skrifte in Afrikaans, maar in Arabiese letters, oor te skryf. Afrikaans se vroegste vorm in skrif was dus in die Arabiese alfabet geskryf.
1815 - 1840's: Die skole van die Kaapse Moslem-gemeenskap gebruik Afrikaans deurentyd as onderrigmedium. Die Moslem Theological School was die eerste skool in Suid-Afrika wat Afrikaans as voertaal gebruik het en teen die 1840's was Arabiese Afrikaans gevestig en is skryfoefeninge in Kaapse Afrikaans gedoen, maar met die Arabiese alfabet.
1838: Die eerste onderwyskollege word op Suid-Afrika se oudste sendingstasie, Genadendal, begin.
1858: 'n Predikant van die Paarl, ds. Van der Lingen, begin in 1858 'n skool - De Gimnasium - met Nederlands as voertaal. Een van die onderwysers wat by die skool aansluit, is Arnoldus Pannevis, 'n taalkundige Nederlander, wat besef het Kaaps-Hollands het nie meer genoeg ooreenkomste met Hollands om as 'n dialek beskou te word nie. Hy noem die taal Afrikaans.
1875: Die Genootskap van Regte Afrikaners (GRA) word op 14 Augustus 1875 gestig.
1902: Ná die Vryheidsoorlog word daar 'n hernude poging aangewend om Afrikaans te bevorder.
1925: Op 8 Mei 1925 word Afrikaans, naas Engels, amptelik een van Suid-Afrika se twee landstale.
1931: Die eerste Afrikaanse rolprente, Moedertjie en Sarie Marais, word vrygestel. Sarie Marais, 'n musiekrolprent, was die eerste Afrikaanse film met 'n klankbaan, en Moedertjie, 'n drama, die eerste met dialoog. Barakat in 2021 is die eerste Moslem-film in Afrikaans.
1942 - 1959: Afrikaans word as universiteitstaal gevestig.
1957: Adam Small debuteer met die digbundel Verse van die liefde en trek aandag met onder meer die digbundel Kitaar my kruis in 1962 en die toneelstuk Kanna hy kô hystoe in 1965. Kitaar my kruis se tweede uitgawe het sewe herdrukke gehad. Prof. Small het in Kaaps geskryf en was 'n voorloper van 'n generasie bruin Afrikaanse digters wat protespoësie in die 1980's gepubliseer het.
1975: Die Taalmonument in die Paarl word tydens die eeufees van die Genootskap van Regte Afrikaners (GRA) geopen.
1994: Afrikaans word een van Suid-Afrika se elf amptelike landstale. Pres. Nelson Mandela lees onder meer Ingrid Jonker se gedig Die kind voor in sy toespraak op 24 Mei 1994. Dertig jaar ná demokrasie, is Afrikaans steeds die taal wat deur die derde meeste mense in die land gepraat word.
1995: Die eerste nasionale Afrikaanse kunstefees, die KKNK, word van 7 tot 13 April in Oudtshoorn gehou.
2025: Afrikaans vier op 8 Mei eeufees as amptelike taal.
(Bron: Afrikaans100.org)
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’