OUDTSHOORN NUUS - Meer as 200 oudskoliere van die destydse Langenhoven Hoër Handelskool het van oor die land Oudtshoorn toe gekom vir 'n reünie die afgelope naweek. Die skool is in 1936 gestig en het op 1 Januarie 1987 verander na Hoërskool CJ Langenhoven.
Die skool was die voorloper van die huidige Langenhoven Gimnasium wat in 1993 tot stand gekom het toe daar met die destydse Hoër Tegniese skool saamgesmelt is.
Die grootste deel van die reünie is by Brian's Grill gevier aangesien die eienaar, Brain Minnie ook 'n oudleerder van die handelskool is. Lisbé de Villiers was die hooforganiseerder van die reünie en het haar plek vol gestaan ten spyte daarvan dat sy kort voor die naweek in die hospitaal was.
Rina Milford, Lisbé, Evelyn la Grange en Willie Campher was van die oudmatrikuklante wat tussen 1945 en 1958 by die handelskool gematrikuleer het. Vivian Barnard, 'n oud-tikonderwyser aan LHS, was oorval deur oudskoliere wat saam met hom op 'n foto wou verskyn.
Volgens die gaste was een van die hoogtepunte die verrassingsoptrede van 'n poporkes wat saamgestel was uit oudleerders van 1969 en 1971. Die Old Boys Band het vir die eerste keer in meer as 45 jaar weer saamgespeel en gewilde liedjies uit daardie era gesing.
Die naweek met 'n geestelike byeenkoms afgesluit wat deur nog 'n oudskolier, Johan Koorts, gelei is.
Die Old Boys' Band'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'