OUDTSHOORN NUUS - ‘n Kunswerk van 'n lewensgrootte marlyn wat uit 6 800 lynkolomme bestaan en wat 320 uur geneem het om te voltooi, is Donderdagaand in die Prins Vintcent-gebou bekendgestel.
Chris Slabber, bekroonde grafiese kunstenaar, het die swart-en-wit lyntekening in opdrag van ‘n kliënt van Pretoria onderneem.
Die kliënt het die marlyn van 3,8 m tydens ‘n vakansie gevang, en in plaas daarvan dat hy die bielie van ‘n marlyn taksidermies in ‘n trofee verewig het, het hy Slabber gevra om dit te teken.
“Die hele marlyn is van kop tot stert met die vryhand geteken wat ‘perfect imperfection’ tot gevolg het, afhangend van hoe die lig val,” verduidelik Slabber.
Hy noem die lyne ‘lifelines’, en die skets is met verskillende diktes penne met Archival-ink, wat vir etse gebruik word, op Fabriano, ‘n papier met ‘n katoenbasis, gedoen.
“Die skets bestaan uit ‘n klomp lyntjies wat strategies breek wat neerkom op dieselfde beginsel as impressionisme waar die strepies die vorm driedimensioneel maak.”
Volgens Slabber, wat bekend geraak het vir sy buitengewone kunswerke wat uit ingewikkelde lynsketse en slim gebruik van kleur bestaan, was hierdie werk nie noodwendig ‘n groot kreatiewe uitdaging nie, maar dit was beslis tegnies ‘n groot uitdaging.
“Die uitdaging was om kop te hou, want in ‘n stadium kon ek net nie langer as ‘n uur konsentreer nie.”
‘n Foto van die marlyn is in ‘n ligkas geplaas en die lyne is een vir een met ‘n liniaal aangebring.
Chris Slabber by die lewensgrootte kunswerk wat hy geskep het.
Toe die projek sowat twee-derdes afgehandel was, het hy besef hy het meer ruimte nodig, en Kobus Spies, eienaar van die Prins Vintcent-gebou, het ‘n lokaal met uitstekende beligting op die eerste vloer tot sy beskikking gestel.
Slabber het reeds verskeie gesogte toekennings van die internasionale “A” Design Awards in Como, Italië ontvang, waar hy as enigste Suid-Afrikaner in 2016 deelgeneem het.
Tans is Slabber in die 152ste plek uit derduisende kunstenaars wêreldwyd wat op die “A” Design Awards-platform geregistreer is.
“Die evaluering word baseer op kreatiwiteit en kwaliteit,” sê Slabber.
Van Slabber se ander werk sluit sy tegnologiese weergawe van die mitologiese mens-eland, wat in rotstekeninge te sien is, in.
“Ek moet die prentjie in my kop sien voordat ek dit kan teken,” sê Slabber, wat sy inspirasie en selfvertroue deur navorsing en geloof in homself kry.
“Ek glo ‘n mens moet die skeppingservaring geniet.”
ARTIKEL & FOTO'S: TISHA STEYN, OUDTSHOORN COURANT KORRESPONDENT
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'