DE RUST NUUS - Die staat het Maandag geweier om 'n pleitverduideliking te aanvaar van 'n man van Blomnek, De Rust, wat van poging tot moord aangekla word, waarna die saak met die getuienis van die klaer voortgesit is.
Daniel Cloete word daarvan aangekla dat hy op 2 Julie 2022 vir Alfredo Draai met 'n klip teen sy kop gekap het.
Hy sê in sy pleitverduideliking dat hy baie kwaad geword het toe Draai hom lelik gevloek en gedreig het om hom aan te rand.
"Ek het my humeur verloor, 'n klip opgetel, en die klaer daarmee teen sy kop gekap. Ek het toe geloop en hom daar laat lê. My lewe was nie in gevaar nie en ek weet dit was verkeerd," sê Cloete in sy verklaring.
Die staatsaanklaer, Thuba Nyamate, wou nie die verduideliking van Cloete aanvaar nie vanweë die erns van die klagte en die beserings wat die klaer opgedoen het.
Draai het getuig dat sy eks-meisie, wat toe in 'n verhouding met die klaer was, hom laat roep het omdat sy glo "swaarkry" onder Cloete. Sy wou glo hê dat hy (Draai) terug moet kom om by haar te bly. Hy werk elke dag en het goed gesorg vir haar en haar dogter.
Die saak word deur streek-landdros Sylvia Mandla aangehoor en Eugene Roos van die Regshulpraad verskyn vir Cloete.
'Ons bring jou die nuutste De Rust, Klein Karoo nuus'