OUDTSHOORN NUUS - Die netwerkaand van die Oudtshoorn-besigheidskamer wat verlede Donderdag-aand, 30 Julie, by die Oudtshoorn-rolbalklub aangebied is, is deur meer as 100 gaste bygewoon en het vir groot vermaak gesorg.
Die aand is deur RealNet geborg en buiten die oorhandiging van lidmaatskapsertifikate aan vier nuwe lede, het twee organisasies wat diens aan die gemeenskap lewer, geleentheid gehad om hul organisasies aan die gaste bekend te stel.
Dr. André Hattingh van Pediatric Care Africa, het hul projek om die twee persele van APD (Vereniging vir persone met gestremdhede) op te knap aan gaste verduidelik en besighede genooi om betrokke te raak deur materiaal of mannekrag te skenk. Pediatric Care Africa lê op 12 Augustus besoek af by APD se persele om te kyk wat die werk behels.
Die bestuurder van Eljada-nasorgsentrum vir volwassenes met gestremdhede, Gerda Swart, het vir groot vermaak gesorg toe sy tydens haar aanbieding oor die dienste wat die 99 inwoners van Eljada ontvang, gaste uitgedaag om van hul personeel met rolle toiletpapier toe te draai.
Pryse is toegeken aan die span wat die beste toedraaiwerk gedoen het.
Sy het 'n beroep op besighede en inwoners gedoen om Eljada-nasorgsentrum in Victoriastraat, naby die gevangenis, te besoek en betrokke te raak om die sentrum te ondersteun.
RealNet, wat die aand se spitbraai geborg het, het ook 'n veiling ten bate van 'n diensorganisasie aangebied.
Abri Ferriera, voorsitter van die besigheidskamer, het tydens 'n kort toespraak gesê hy het Meiringspoort onlangs besoek en was verstom oor die vordering wat reeds met tydelike herstelwerk gemaak is. Volgens hom is die pad reeds tot by die waterval tydelik herstel en hy voorspel dat die poort moontlik vroeër vir beheerde verkeer oopgestel kan word as wat aanvanklik verwag is.
Nuwe besighede wat by die besigheids-kamer aangesluit het, is: La Feinity Beauty, Oudtshoorn-rolbalklub, Align Studio Collective en Nashua George.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’