OUDTSHOORN NUUS - "Ons sien geweldig uit daarna om feesgangers hierdie naweek by Klein Karoo Klassique in Oudtshoorn te verwelkom."
Só sê Hugo Theart, uitvoerende hoof en artistieke direkteur van dié fees van klassieke musiek, literatuur, kuns, kos en wyn, wat van Vrydag 7 tot Sondag 9 Augustus vir die 17de keer in die Klein-Karoo aangebied word.
Theart sê Klassique is een van sy gunstelinggeleenthede van die jaar. "Die intimiteit van die fees en die warmte daarvan om tyd saam met jare lange feesgangers te spandeer én nuwe gehore te ontmoet, is 'n lekkerte.
"Voeg daarby die wonderlike musici, sangers en ander deelnemers wat met soveel passie en entoesiasme hul vakmanskap en liefde vir klassieke musiek met gehore deel vir die perfekte winterfees."
Gerrie Lemmer, uitvoerende hoof van kultuur by die ATKV, sê Klein Karoo Klassique bied die ideale platform vir die ATKV om sy missie, proaktief en op 'n volhoubare wyse om te sien na die diverse kunsbehoeftes van die Suid-Afrikaanse gemeenskap uit te leef. "Klein Karoo Klassique gaan oor veel meer as klassieke musiek en bied aan feesgangers 'n unieke bymekaarkomplek in die Klein-Karoo, met 'n onvergeetlike kultuurervaring wat ook visuele kuns, letterkunde en kos- en wynervarings insluit.
"Die ATKV sien veral uit na die gewigtige klassieke musiekaanbod, 'n program wat 'n wêreldpremière én klassieke gunstelinge insluit. Hierdie uiteenlopende program bied werklik iets vir elke belangstellende, van asemrowende musiekuitvoerings tot inspirerende musiek- en boekgesprekke, asook praktiese werksessies. Só ook word die fees die ideale platform vir opleiding en ontwikkeling," sluit Lemmer af.
Anina Lundie, senior kurrikulum-beplanner: skeppende kunste by die WKOD, sê feeste soos Klein Karoo Klassique gee lewe aan die skoolkurrikulum in 'n werklike, professionele omgewing.
"Dit verbind leerders in praktyk tot kunstenaars, kunste-administrateurs, tegnici en feesorganiseerders wat aan hulle wys dit is lewensvatbaar en opwindend om 'n loopbaan in die kunste te hê. Deur ons Growth for Jobs-program neem ons hierdie verbintenis 'n tree verder, wat uiteindelik die leerders se ervaring by die fees met loopbaanontwikkeling en ekonomiese deelname verbind.
"Inleiding tot die orkes, maak wat leerders in die klaskamers leer 'n werk-likheid. Dit is baie leerders se eerste keer wat hulle 'n orkes in lewende lywe sien. Daardie oomblik wanneer hulle iets herken wat hulle in die klaskamer geleer het, is uiters kragtig," sluit Lundie af.
• Kaartjies is aanlyn beskikbaar by klassique.co.za, by die KKNK-kantoor of by die deur voor vertonings, afhangend van beskikbaarheid.
• Klein Karoo Klassique word aangebied deur die KKNK, moontlik gemaak deur die Rupert-musiekstigting en die ATKV, met ondersteuning van Le Lude, RSG, Oudtshoorn Courant en die Oudtshoorn-munisipaliteit.
• Dié winterfees se verblyfborge is Argyll B&B, Beit Shalom, Cul de Sac, De Zeekoe, El Dorado Hotel & Self Catering, Kleinplaas Holiday Resort, Miles B&B Guesthouse, Oudtshoorn Inn, Pictures Boutique Hotel, Protea Hotel Riempie Estate, Queen's Hotel, Ravenscliff Manor, Rosenhof Country House en Thylitshia Villa.
n Vir meer inligting, die volledige feesprogram en kaartjies, besoek klassique.co.za of kontak die KKNK-kantoor per e-pos by [email protected], skakel 044 203 8600 of stuur 'n WhatsApp na 065 285 2337.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’