PLAASLIKE POLITIEK - Daar is 'n ou gesegde: as twee osse baklei, is dit die gras wat ly.
In Oudtshoorn se geval is die "gras" die inwoners, die klein sakeman op die hoofstraat, die toeris wat 'n slaggat tref en die skoolkind wat wag vir dienslewering wat nooit kom nie.
Die voortslepende bakleiery in die Oudtshoorn-stadsraad het lankal opgehou om net 'n interne politieke speletjie te wees.
Dit is 'n openbare verleentheid wat die hele Tuinroete en Klein Karoo se reputasie skaad - en die rimpeleffek raak ook die breër Wes-Kaap se aansien as 'n provinsie wat oor die algemeen trots is op goeie plaaslike regering.
Wanneer politieke partye in 'n koalisie meer tyd spandeer om mekaar te ondermyn as om die stad te bestuur, is die gevolge tasbaar: infrastruktuurontwikkeling vind nie plaas nie, onderhoud word nie gedoen nie, werk droog op, opheffing en geleenthede bly agterweë, terwyl beleggers elders kyk.
'n Munisipaliteit wat elke paar maande deur 'n nuwe magsverskuiwing geruk word, kan nie doeltreffend begroot of beplan nie.
Vir 'n dorp soos Oudtshoorn, wat se ekonomie op toerisme, landbou en klein besighede staatmaak, is stabiliteit nie 'n luukse nie - dit is 'n voorvereiste.
Probleem nie net één party nie
Dit is te maklik om die skuld net op een party te plaas.
Wanfunksie in koalisierade ontstaan gewoonlik wanneer partye meer waarde heg aan die behoud van mag as aan hul mandaat - dit gebeur oor die politieke spektrum heen.
Sonder 'n kultuur van samewerking en verantwoordbaarheid maak dit nie veel saak wie aan bewind is nie. Dít is waarom kiesers moet vra "watter mense en partye kan werklik saamwerk?", eerder as net "watter party moet wen?".
Waarom jou stem swaarder weeg as wat jy dink
Wanneer kiesersopkoms laag is, is dit die klein groepies wat wél stem wat die uitslag bepaal - dikwels dié wat die status quo geniet.
'n Lae opkoms gee juis meer mag aan partye wat garing spin uit chaos.
Om reg te stem beteken om verby die plakkate te kyk en te vra:
- Het hierdie party 'n bewese rekord van samewerking, of van verdeeldheid?
- Stel hulle bekwame mense voor, of net lojaliste?
- Is daar 'n duidelike plan vir dienslewering of net retoriek?
- Sal hulle rekenskap gee wanneer dinge verkeerd loop?
Plaaslike regering maak JOU lewe beter of slegter
Plaaslike verkiesings se uitkoms voel mens direk: die raadslid wat jy verkies, bepaal of jou vullis opgelaai word en of die pad na jou besigheid herstel word.
Elke dag van interne bakleiery is 'n dag wat aan die gemeenskap ontneem word.
Koalisies is nie per definisie tot mislukking gedoem nie, maar dit vereis volwassenheid en 'n bereidwilligheid om die inwoners se welsyn bo party-eiebelang te stel.
Die verantwoordelikheid rus egter nie net by die politici nie - kiesers moet ook ingelig stem en raadslede deurlopend verantwoordbaar hou, nie net elke vyf jaar nie.
Oudtshoorn en die Klein Karoo verdien beter
Die oplossing lê nie net in nuwe gesigte nie, maar in kiesers wat hul mag ernstig opneem: 'n stem is 'n instrument van verandering - maar net as dit wys gebruik word.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’