Gallery
OUDTSHOORN NUUS - "Never give up." Die drie woorde het 'n familie deur diep waters gedra nadat hul 12-jarige seuntjie, Jean-Luc, op die ouderdom van vier met outisme en savantsindroom gediagnoseer is.
Vandag, is hy 'n entrepreneur in eie reg nadat sy ouers, Danielle en Johliscio hom gehelp het om sy eie besigheid, JLS Authentics, Never Give Up op die been te bring.
Die jong kunstenaar is 'n leerder van die Eljada Kairos Skool waar hy heeltemal ontluik het van 'n teruggetrokke stil seuntjie wat nie gepraat het nie, tot die jong sakeman wat hy vandag is.
Danielle het altyd wanneer hy gesukkel of gefrustreerd geraak het vir hom gesê, "Never give up", maar nooit geweet of hy werklik inneem wat sy vir hom sê nie. Sy het eendag uit moedeloosheid en frustrasie net begin huil. Jean-Luc het tot voor haar gestap en in sy gebroke manier die drie woorde gesê en haar trane afgevee. Die gebaar het alles verander en het sy besef dat sy vir Jean-Luc gaan baklei want opgee is nie 'n opsie nie.
Dinsdag 24 Maart was 'n spesiale dag vir die Smith-gesin, asook genooide gaste wat elkeen 'n besonderse pad saam met Jean-Luc en sy gesin stap. Die speaker van Oudtshoorn-munisipaliteit, Suzane Jansen het as 'n projek uit die speaker se kantoor die nodige masjiene aangekoop wat hy nog kort om sy besigheid suksesvol te bestuur. Die besigheid fokus op die verkoop van sy tekeninge wat op items soos bekers, sakke en sleutelhouers gedruk word.
Tydens die intieme geleentheid het almal teenwoordig 'n spreekbeurt gekry om te vertel hoe hulle in die klein seuntjie se lewe pas. Van skoolhoof, Hennie Baartman, al sy vorige onderwysers, arbeidsterapeute, familie en vriende het met liefde en deernis hul stories gedeel.
In die woorde van Jansen, "Een of ander tyd loop ons sirkel vol" vertel die storie van 'n klein seuntjie wat 'n groot impak op soveel lewens het. "Jean-Luc is 'n inspirasie, ek moes ook met tyd leer hoe om met hom te kommunikeer, vandag is hy 'n rolmodel vir almal, en is ieder en elk wat vandag bygewoon het ongelooflik trots op wat hy tot dusver bereik het."
Die familie is nou betrokke by bewus-making rakende outisme en moedig ouers aan om nie op te gee nie.
"Ons is so dankbaar vir Eljada Kairos, en almal wat op hul unieke manier hom help vorm het. Jean-Luc is 'n heeltemal ander seuntjie nou, net dat hy soveel mense in sy sirkel toelaat is klaar 'n mylpaal vir 'n kind met outisme. Elke dag is 'n avontuur saam met hom en glo ons vas ons het regte grondslag vir hom neergelê vir die toekoms," noem Danielle.
Met die KKNK wat letterlik die naweek afskop is Jean-Luc slaggereed vir besigheid. Hy gaan weer hierdie jaar sy eie stalletjie by die Feesmark bestuur en is opgewonde om deel te wees van die fees, veral die 30ste KKNK wat beloof om groot te wees.
Jean-Luc het ook sy eie Facebook-blad, JLS Authentics.
- Indien enigiemand belangstel om van die items te koop kan hulle 'n e-pos stuur aan [email protected] of 'n WhatsApp na 061 078 9561.
Vorige berigte:
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’