OUDTSHOORN NUUS - Jean-Luc Smith, ’n 11-jarige leerder van die Eljada Kairos Skool en ’n jong kunstenaar met ’n unieke talent, het onlangs sy eie besigheid, JLS Authentics, begin en gaan vanjaar 'n stalletjie by die KKNK hê.
Jean-Luc is op 4-jarige ouderdom met outisme en savantsindroom gediagnoseer.
Sy ma, Danielle vertel dat hulle vanjaar besonder opgewonde is omdat die KKNK in outisme bewusmakingsmaand, April, val en hy ’n stalletjie by vanjaar se fees gaan hê.
“Hy is so opgewonde oor dit. Ons gebruik nou sy tekeninge op verskillende produkte wat spesiaal vir die fees gemaak word. Ons gaan ook vir hom ’n groot boom maak met takke, amper iets soos die ‘tree of life’ en dan wil ons gekleurde legkaartstukkies daarop plak. Elke persoon wat iets koop kan sy naam daarop skryf om te wys hulle ondersteun persone met outisme.”
Danielle vertel dat die geld wat hulle met dié besigheid genereer in ’n rekening gaan sodat hy eendag bietjie finansiële sekuriteit het.
Jean-Luc het ook sy eie Facebook-blad, JLS Authentics.
Indien enigiemand belangstel om van die items te koop kan hulle ’n e-pos stuur aan daniellesmith0209@gmail.com of ’n WhatsApp-boodskap stuur na 061 078 9561.
Lees die vorige berig:
Outistiese kunstenaar begin sy eie besigheid
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’