Video
OUDTSHOORN NUUS EN VIDEO - Jean-Luc Smith, 'n 11-jarige leerder van die Eljada Kairos Skool en 'n jong kunstenaar met 'n unieke talent, het onlangs sy eie besigheid, JLS Authentics, begin met die hulp van sy ouers. Dié besigheid fokus op die verkoop van sy tekeninge wat op items soos bekers, sakke en sleutelhouers gedruk word.
Jean-Luc, se ouers, Danielle en Johliscio Smith, het vroeg in hul seun se lewe besef dat hy anders was.
"Hy kon nie geluide hanteer nie, hy was sensitief vir tekstuur en hy kon nie praat nie. Ons het glad nie verstaan wat aangaan nie. Ons het eintlik gedink dat hy doof is, maar tog het hy hier en daar woordjies gesê."
Hy het egter vroeg in sy lewe sy belangstelling in kuns getoon en het diere soos krokodille en olifante in die fynste detail uit papier geskeer en vir ure met dit gespeel.
Jean-Luc is op die ouderdom van vier met outisme en savantsindroom gediagnoseer. Dié diagnose was aanvanklik vir die gesin onbekende terrein, maar hulle het besluit om vir Jean-Luc die beste geleenthede moontlik te bied.
"Ons het hom in die Eljada Kairos Skool geplaas, en daar het ons kind ongelooflik gegroei. Sy sosiale vaardighede het verbeter en hy het ook daar op die ouderdom van agt leer praat. Hy leer ook lewensvaardighede sodat hy meer onafhanklik kan funksioneer en basiese goedjies self kan doen."
Jean-Luc Smith by sy stalletjie. Foto verskaf
Jean-Luc het ongeveer drie jaar gelede begin teken en sy gunsteling diere om te teken is verkleurmannetjies en dinosourusse. Sy ouers het gou besef dat sy talent 'n geleentheid bied, en hulle het SEDA (Small Enterprise Development Agency) genader om hulle te help om 'n klein besigheid vir hom op die been te bring.
"Ons het sy eerste opslaanmark in Oktober gehad, en hy het baie goed gevaar. Hy was vreeslik trots op sy werk wat daar uitgestal is. Sy sussie, Daschin, was natuurlik sy groot ondersteunerhet, het vreeslik mooi gehelp om die stalletjie te bemark."
Die leuse van JLS Authentics, Never Give Up, dra 'n diep persoonlike betekenis vir die Smith-gesin. Danielle verduidelik dat dit Jean-Luc se eerste woorde aan haar was.
"Ek het altyd as ek hom sien sukkel of gefrustreerd raak, nog voor sy diagnose, vir hom gesê Never Give Up. Uit moedeloosheid het ek eendag net begin huil. Hy het tot voor my gestap en in sy gebroke manier daardie drie woordjies geuiter terwyl hy my trane afgevee het. Kinders met outisme verstaan nie emosie nie - hulle ervaar dinge anders as ons, maar daardie dag het hy definitief iets verstaan. Daardie dag het ek geweet vir die seuntjiekind van my gaan ek aanhou baklei, want hy gaan nooit opgee nie en ek ook nie."
Hulle het 'n rekening oopgemaak waar die inkomste van sy verkope geberg word, sodat hy eendag finansiële sekuriteit het. "Ons gaan nie vir ewig hier wees nie, en ons weet nie wat die toekoms inhou nie, maar ons hoop dat hy hierdeur bietjie standvastigheid kan hê."
Hoewel die besigheid nog in sy kinderskoene is, is dit 'n bron van trots en hoop vir die gesin. Danielle sê hulle het groot planne om die besigheid te laat groei.
"Ek hoop dat ons hierdeur bewusmaking vir kinders met outisme kan skep en ook ander ouers aan moedig om nie op te gee nie. Al wat nodig is, is geduld. Jy weet nie watter potensiaal in jou kind steek nie. Net so frustrerend soos dit vir ons is om die proses te probeer verstaan, so frustrerend is dit vir hulle om in ons wêreld te moet aanpas, want hulle voel en beleef dinge soveel anders as ons."
Jean-Luc het ook sy eie Facebook-blad, JLS Authentics. Indien enigiemand belangstel om van die items te koop kan hulle 'n e-pos stuur aan daniellesmith0209@gmail.com of 'n WhatsApp-boodskap stuur na 061 078 9561.
VIDEO:
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’