OUDTSHOORN NUUS - Die bekende plaaslike parapleeg-fietsryer Vussi Marenene (44) is terug in Oudtshoorn nadat hy saam met Bidii Yetu en die Botswana Raad vir Gestremdes 'n fietsrit van 1 000 km deur Botswana onderneem het om inklusiewe sport te bevorder.
Die groep het die uitdaging van 24 Oktober tot 7 November aangepak.
Die tog het begin in Gaborone, Botswana se hoofstad in die suide van die land, en by die land se noordelike grens met Zambië geëindig.
Die groep het onderweg by dorpe aangedoen om mense bewus te maak van die voordele van aangepaste sport vir almal en om groter insluiting van persone met gestremdhede in alledaagse sport- en ontspanningsaktiwiteite te bevorder.
Marenene sê Yetu en die Botswana Raad vir Gestremdes het vanjaar 'n gesamentlike fietsrit aangebied om te wys hoe fietsrygeleenthede waaraan mense met en sonder gestremdhede saam kan deelneem inklusiwiteit kan bevorder.
Altesaam 20 deelnemers, bestaande uit handfietsryers en gewone fietsryers, het aan die uitdaging deelgeneem.
Volgens Marenene het hulle 13 dae op die pad deurgebring en daagliks tussen 60 km en 90 km afgelê.
"Sewe van die nagte is op kampeerterreine deurgebring, waar ons ook die spesiale ervaring gehad het om in gebiede met wildlewe te kamp. Veiligheid was deurgaans 'n prioriteit, met polisielede en padveiligheidsbeamptes wat ons gedurende die hele roete begelei het."
Hy sê die ervaring was besonder positief. "Nie een van die deelnemers moes die uitdaging staak nie, en al die fietsryers het daarin geslaag om die eindbestemming, Kasane, te bereik."
Die groep is ook deurgaans met groot gasvryheid deur die inwoners van die dorpe en gemeenskappe langs die roete ontvang.
Op die laaste dag is die deelnemers met medaljes en sertifikate beloon ter erkenning van hul prestasie.
Marenene het sy dank uitgespreek teenoor almal wat dit moontlik gemaak het om aan hierdie besonderse internasionale uitdaging deel te neem. Hy het spesiale dank uitgespreek teenoor die Oudtshoorn-munisipaliteit, die Wes-Kaapse Fietsry-federasie, dr. Jacques van Staden en Suzanne Jantjies, asook almal wat op enige wyse tot sy deelname bygedra het.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’