OUDTSHOORN NUUS - Die Hooggeregshof in George het verlede Vrydag beslis dat Walter Hendricks se ontslag as waarnemende munisipale bestuurder onwettig was.
Hierdie verwikkelinge volg nadat 13 raadslede ( ANC, PA, Saaamstaan, OGI, GOOD, Advieskantoor) op 22 April 'n suksesvolle dringende mosie ter tafel gelê het om Hendricks van sy pos te onthef.
Volgens die hofdokumente word die Oudtshoorn-munisipaliteit gelas om onmiddelik Hendricks toe te laat om sy pligte as munisipale bestuurder voort te sit soos per sy indiensnemingsooreenkoms wat gesluit is op 3 Januarie 2022. Hendricks se afdanking is glo onwettig omdat hy nie 'n kans gegun is om sy kant van die saak te stel nie.
Die munisipaliteit en alle partye betrokke moet nou op 10 Junie redes aan die Hooggeregshof verskaf waarom hy nie verantwoordelik gehou moet word vir Hendricks se regskostes nie; asook waarom die Hooggeregshof se besluit om Hendricks in sy munisipale bestuurderposisie her aan te stel, nie finaal gemaak moet word nie.
Hendricks se omstrede aanstelling as munisipale bestuurder is in Januarie deur FASO (The Forum of Anti-corruption and Service Delivery Oudtshoorn) veroordeel omdat Hendricks tans kriminele klagtes vir tenderbedrog en korrupsie in die gesig staar toe hy in diens van George-munisipaliteit was.
Die onderburgemeester, Vlancio Donson (ICOSA), was ook tydens dieselfde raadsvergadering via n mosie van wantroue uit sy pos verwyder.
Donson het toe reeds gewaarsku dat die prosesse wat gevolg was om van hom ontslae te raak, onwettig is, en dat hy 'n goeie kans staan om dit nietig te laat verklaar in die Hooggeregshof.
Donson hou egter voet by stuk dat hy nie diè roete sal volg nie omdat dit volgens hom net tot verdere onmin sal lei wat nie die dorp vorentoe sal vat nie.
Die nuwe onderburgemeester sal nou op 3 Mei tydens 'n spesiale raadsvergadering verkies word. Alle ander mosies sal ook tot dan oorstaan.
Intussen is Jan Publiek warm onder die kraag omdat die belastingbetaler sal moet opdok indien die Hooggereghof op 10 Junie besluit dat die munispaliteit Hendricks se regskostes sal moet dra - geld wat vir dienslewering aangewend moet word.
Vorige artikels:
- Donson en Hendricks uit
- Donson uitgestem as Onderburgemeester
- Gerald de Jager nuwe munisipale bestuurder
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'