OUDTSHOORN NUUS - Die bedrogsaak teen ‘n man van Gauteng, wat hom glo as ‘n advokaat voorgedoen en ‘n sakeman van Oudtshoorn uit meer as halfmiljoen rand bedrieg het, is verlede Woensdag as gevolg van te min hoftyd, vir verhoor tot November uitgestel.
Ronald Dale Harmse (50) staan tereg op aanklagte van bedrog, diefstal en geldwassery en pleit onskuldig op al die aanklagte.
Harmse het volgens die staatsaanklaer, Brandon Smith, in Maart 2020 vir Matthys Slabbert uit R535 000 bedrieg.
Die saak was vir drie dae se verhoor op die hofrol en is op Maandag 6 September tot die volgende dag uitgestel nadat die staat die aanklagte aan Harmse gestel en hy onskuldig gepleit het op al drie aanklagte.
Die hof was die volgende dag as gevolg van ‘n Covid-19-geval gesluit.
Die staat het die hof die Woensdag meegedeel dat dit onwaarskynlik is dat die verhoor sal voortgaan, as gevolg van ‘n vol hofprogram vir die dag, en vir verdere uitstel gevra weens ouer sake wat afgehandel moet word.
Harmse se regsverteenwoordiger, adv. Riaan Pienaar, het die hof versoek om datums te bepaal waarop die saak voorkeur sal kry.
Streeklanddros Sylvia Mandla het verduidelik dat dit as gevolg van die Covid-19-pandemie nie moontlik is om te verseker dat ‘n saak op bepaalde datums aangehoor kan word nie.
“Dit gebeur van tyd tot tyd dat die hofgebou in belang van almal se gesondheid gesluit moet word. Mense word siek en daarom kan verhoordatums nie gewaarborg word nie,” het die landdros gesê.
Die eerste beskikbare verhoordatum is 29 November.
Vorige artikels:
- Harmse-saak uitgestel
- Vermeende bedrieër kry streekhofdatum
- Borgtog aan Harmse geweier
- 'Advokaat' spook steeds vir borg
- 'Advokaat' steeds in aanhouding
- Vermeende bedrieër wil nou borgtog hê
- Vermeende bedrieër in hof
- Man verloor R500 000
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'