Update
OUDTSHOORN NUUS - Gielie Basson, 'n bekende inwoner van Calitzdorp, beplan om vir 'n tweede keer die Guinness-wêreldrekord vir die langste braaisessie aan te durf, hierdie keer met 'n nuwe mikpunt van 100 ure ononderbroke braai.
Die poging vind 24 tot 28 September plaas.
Basson het reeds in 2023 'n poging aangewend om die huidige rekord van 80 uur, wat deur Suid-Afrikaner Jan Greeff in 2014 opgestel is, te breek. Hy wou dit met vier ure verbeter. Alhoewel hy die 84 uur-merk met gemak verbygesteek het, is sy poging uiteindelik van die hand gewys weens tegniese probleme met die tydsberekening.
"Ek stem nie saam met hul beslissing nie, maar ek moet dit aanvaar," sê hy.
"Wat my getref het, is dat hulle nie eers die video's gebruik het om hul besluit te bevestig nie."
Hy sê sy grootste doelwit met die braairekord is om mense van regoor die wêreld van Calitzdorp bewus te maak.
"Ek doen dit uit en uit net vir die dorp. Ek wil hê mense moet kom en ons besighede en kelders besoek. Hulle moet sommer vir 'n naweek by 'n gastehuis bly en saam met ons kom kuier."
Tog het hy besluit om vir oulaas weer te probeer.
"Talle toeriste het ná die eerste poging kom sê dat hulle juis Calitzdorp besoek het omdat hulle daarvan op sosiale media gehoor het. Toe besef ek: ek hét dalk nie die rekord gekry nie, maar ek het wel my missie bereik, om mense van Calitzdorp bewus te maak."
Anders as in 2023, gaan Basson hierdie keer met 'n toegewyde tydsouditeur werk wat sy braai- en rusure sal monitor volgens Guinness se streng reëls. Hy beplan ook om die braaiplek nader aan die gehoor te skuif, sodat hy kan sit en braai terwyl hy met mense gesels.
"Ek het in 2023 'n ou besering vererger en moes later selfs 'n operasie aan my enkel ondergaan. Hierdie keer beplan ek deegliker en slimmer," sê hy.
Wat's op die rooster?
Gedurende die poging beplan Basson om sowat 150 van elk van die volgende items te braai:
- Hoenderdytjies
- Varktjops
- Beesblad
- Boerewors
- Mielies
Guinness-regulasies vereis dat die vleis eetbaar gaar moet wees, nie te rou of te gaar nie en dit mag slegs met die hand omgedraai word, sonder enige toeklaproosters.
Gesondheid en stamina
Ten spyte van die lang ure beplan hy nie om op opkikkers staat te maak nie. Hy gebruik slegs water, koffie en minimale voedselinname om sy liggaam lig te hou. "Die grootste uitdaging is geestelik. Ek hou myself sterk deur te dink aan vriende en dorpelinge wat deur moeilike tye is, hulle inspireer my."
Hoewel daar geen mediese span in diens is nie, neem hy aanvullings om gesond te bly en beplan hy matige hidrasie.
Wat as hy wen?
"Ek beoog nie om 'daai ou' te wees wat net rekords jaag nie," sê hy. "Maar as ek weer iets kan aanpak wat die Klein-Karoo en Calitzdorp op die wêreldkaart plaas, steek ek my hand op."
Fondsinsameling vir skool
Basson sê hy beoog ook om met hierdie geleentheid geld vir Gamka-Oos Primêr, die laerskool in Calitzdorp, geld in te samel om verbeteringe aan die skool aan te bring.
Enigiemand wat met hom wil kontak maak kan vir hom 'n e-pos by Gielie.basson@outlook.com stuur.
Vorige berigte:
- Gielie braai vir 84 uur
- Gielie Basson het minder as 6 ure om te gaan
- Opvolg: Klein Karoo oo die kole
- Klein Karoo op die kole: Gielie se Potbrood
- Poging tot langste braai ter wêreld
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’