Gallery Video
OUDTSHOORN NUUS - "Dit was oorweldigend en ek kan dit steeds nie mooi in woorde beskryf nie. Dit het my wildste verwagtinge oortref."
Dit is hoe Gielie Basson, die Calitzdorper wat die afgelope naweek hopelik die rekord vir die langste braai gebreek het, sy ervaring opsom.
Die huidige rekord is 80 ure en Basson het sedert 21 September tot 24 September vir 84 ure gebraai - met slegs drie ure se slaap tussen-in. Nou moet die rekord net amptelik toegestaan word. Basson sê die videobeeld-materiaal moet nou na Guiness World Records gestuur word.
"Hulle gaan 'n ontleding doen en kyk dat ek 100% volgens die reëls opgetree het. Ek behoort binne so twee maande te weet of ek amptelik die rekord gebreek het. Vir nou kan ek sê dat ek bereik het wat ek wou en dit was om 84 uur aaneen te braai."
Basson sê hy het nooit in sy fisiese vermoë getwyfel nie.
"Ek het geweet fisies sou ek dit kon doen. Ek het uithouvermoë en deursettingsvermoë. Die grootste uitdaging was egter hier by Vrydag toe my bene en enkels begin opswel. My kuite was harder as die hout langs die braai. My bene was ongelooflik seer. Ek het drukkouse gekry wat ek aangetrek het en het ook 'n time out gevra wat ek 'n rukkie met my bene omhoog gelê het. Toe ek terugkom by die braai het iemand vir my 'n pienk voetspa gereël en het ek gesit en braai met my voete in die spa. Dit het nogal baie gehelp."
Mooi oomblikke
Basson sê hy het geweldig baie ondersteuning gekry."Van die mooiste oomblikke was toe een van my vriende, Ruan Coetzer, by my opdaag 02:00 die nag, met vars roosterkoek. Hy het self geknie en gemaak en wou hê ons moet dit saam braai, maar volgens Guiness se reëls kon ek nie ander items op die rooster hê nie. Dit het ons egter nie gekeer nie, want by Zamani brand daar altyd iewers 'n vuur, en het ons 'n paar kole van die ander vuurherd gebruik en hy het vir ons die roosterkoek gebraai en ons kon dit saam geniet. Dit was baie spesiaal."
Hy kon ook vleis skenk soos hy graag van die begin af wou.
"Ek het nie heeltemal so baie gebraai soos ek gedink het ek gaan nie. Dit het tog oor die langste braai gegaan en nie die meeste braai nie. Ek het toe aan die polisie en nooddienste en ook die sopkombuis geskenk. Die rou vleis wat oorgebly het, is ook aan die sopkombuis geskenk."
Die naweek het egter nie Sondag 18:00 na die groot braai geeindig nie.
Nog 'n groot oomblik vir Basson die naweek was dat sy seun, Mícheal en sy meisie Chanel, die naweek verloof geraak het.
VERSKAFDE VIDEO: Nog 'n groot oomblik vir Basson die naweek was dat sy seun, Mícheal en sy meisie Chanel, die naweek verloof geraak het.
"Ek sou graag daar wou wees vir dit. Hulle het saam met haar familie op die wyntreintjie gaan ry en hy het haar by die uitkykpunt gevra. Dit was 'n baie spesiale oomblik. Vriende van my van vêr het ook kom kuier en omdat ek so min tyd saam met mense kon deurbring die naweek, het ons sommer dieselfde kole gebruik en 'n lekker steak gebraai en nog bietjie gekuier."
Wat is volgende vir Gielie?
"Rus! Ek het nog nie heeltemal klaar gerus nie. My kop voel nog effe muf."
Volgens hom wou hy graag die kollig op Calitzdorp en omgewing plaas en hy glo hy het in sy doel geslaag.
"As ek uitgerus is sal ek bietjie gaan kyk watter rekords kan ek nog breek. Dalk doen ons 'n Calitzdorp-spanpoging om die dorp te wees wat die meeste rekords breek!"
Vorige artikels:
- Gielie Basson het minder as 6 ure om te gaan
- Opvolg: Klein Karoo op die kole
- Klein Karoo op die kole: Gielie se potbrood
Volgens hom wou hy graag die kollig op Calitzdorp en omgewing plaas en hy glo hy het in sy doel geslaag.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’