OUDTSHOORN NUUS - Die minister van finansies en ekonomiese geleenthede, David Maynier, het Dinsdag R50 miljoen bewillig vir boere in die Wes-Kaap wat deur die voortslepende droogte geteister word.
Dr. Ivan Meyer, die minister van landbou, het die nood-droogtefonds goedgekeur. Volgens die verklaring wat die week deur Maynier se kantoor uitgereik is sal die fondse spesifiek vir twee maande se voer vir die boere in die Sentraal Karoo-distrik, Mtzikamma en Klein-Karoo-distrik gebruik word.
"Die droogte sal vir baie jare nog gevoel word, veral in dele waar landbou die belangrikste rolspeler van die Wes-Kaapse ekonomie is.
Dit sal ook 'n reuse-impak op plaaswerkers hê indien landbou in die Wes-Kaap in duie sou stort," het Maynier gesê.
Volgens Meyer het hulle ook 'n verdere R147 miljoen van die nasionale departement van landbou aangevra om by die droogtefonds by te dra. Die Wes-Kaapse departement van landbou sal ook R100 000 gee om pastorale en sielkundige hulp aan boere en plaaswerkers te bied.
Om die omvang van die droogte te bepaal is 'n tegniese droogte-assessering vroeër die jaar gedoen. Die uitslae het gewys dat die noordelike dele van die Wes-Kus, die hele Sentraal Karoo, dele van die Eden-distrik, Kaapse Wynland en Overberg steeds ernstig onder die droogte gebuk gaan en is dié dele as uiters kritiek, volgens die assessering, geklassifiseer.
In meeste van die areas het natuurlike plantegroei nie die droogte oorleef nie en is weivelde en ander voer vir diere feitlik uitgeput. Veeboere word die ergste deur die droogte geraak. Terwyl boere probeer om die situasie te hanteer ontstaan die vrees steeds dat die boere nie die kapitaal of ander hulpbronne gaan hê om hul plase te herbou nie.
Volgens Meyer sal die droogte geteisterde gebiede minstens drie jaar se gemiddelde of bo-gemiddelde reënval moet geniet om van die droogte te herstel.
Jannie Strydom, uitvoerende hoof van Agri Wes-Kaap het Woensdag in 'n verklaring gesê die droogtefonds van die Wes-Kaapse regering help geweldig baie aangesien die droogtefonds van Agri Wes-Kaap basies uitgeput is.
"Baie produsente staar kontantvloeibeperkings in die gesig namate plaasinkomste afgeneem het, maar die bedryfskoste bly hoog. Dit kan 'n humanitêre krisis tot gevolg hê," het hy gesê.
Die Klein-Karoo ervaar reeds die vierde jaar van droogte en dit het 'n groot impak op onder meer die vee- en volstruisbedryf en lusernboere.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'