Update
OUDTSHOORN NUUS - Daadwerklike stappe, soos die verwydering van takke en stompe met kajakke uit die Raubenheimerdam, word deur die Oudtshoorn-munisipaliteit geneem om die huidige troebel waterkwessie op te klaar.
Voorkomingsmaatreëls om soortgelyke situasies se impak te verminder, word ook in plek gestel.
Johan Uys, watergehaltebestuurder by die munisipaliteit, het gesê die situasie gaan nie oornag verbeter nie.
"Ons doen ons bes met wat ons tot ons beskikking het."
Oudtshoorn se drinkwater het na Woensdag 14 Februarie se 50 mm reën in die Raubenheimer- en Mellvilledamme se opvangsgebied, troebel geraak en bruin verkleur.
Uys het gesê, "Oudtshoorniete word aangeraai om drinkwater vir menslike gebruik te kook."
Hy het toe gesê dit sal ongeveer twee weke neem voor die modderigheid in die water sal sak.
Eers daarna kan effektiewe chlorinering by die reservoirs gedoen word.
Toetse is reeds gedoen om te bepaal wat die watergehalte is, maar teen gisteroggend, Donderdag 22 Februarie, het Eden-distriksmunisipaliteit te kenne gegee dat die uitslag van die toetse op die vroegste vandag (Vrydag) beskikbaar sal wees.
Johan Uys, watergehalte-bestuurder by die Oudtshoorn-munisipaliteit.
Met Uys aan stuur van die waterkwessie, het hy en die direkteur tegniese dienste, Chris Koch, projekte begin identifiseer om die probleem op te los.
Op Woensdag 21 Februarie het vyf munisipale amptenare en agt studente en fasiliteerders van Operation Mobilisation Impulse Gap Year begin om takke en stompe uit die Raubenheimerdam te verwyder.
Operation Mobilisation Impulse Gap Year se vrywilligers, Johan Uys en nog twee munisipale amptenare het met kajakke die water ingeroei en die takke en stompe aan wal gebring.
Nog twee munisipale amptenare het te voet die water ingestap om te help.
Koch het gesê hulle sal vandag begin om die stompe weg te ry.
Lede van Oudtshoorn se brandweerdienste was byderhand om te help en om veiligheidsmaatreëls vir die roeiers in plek te stel.
Uys het Woensdag se opruiming as 'n groot sukses beskryf.
Willem Krige, fasiliteerder by Operation Mobilisation Impulse Gap Year, laai die eerste vrag takke op sy kajak. Foto's: Christo Vermaak
"Dit sal vorentoe 'n groot verskil maak om skoon water aan die dorp te voorsien, alhoewel die stompe nie die oorsaak van die troebel water is nie.
"Die water is troebel weens massas water wat van die Mellvilledam afgevloei het en weens die droogte, modder en vorige brande se as in die dam laat beland het."
Volgens Uys het die damvlak na die reën met 5% gestyg. "Dit maak dit vir ons moontlik om broodnodige besproeiingswater twee maal per maand vir plase vry te laat."
Die Raubenheimerdam se watervlak was Woensdag 55,5%, met die Mellvilledam op 100%.
Intussen het die Stompdrifdam (De Rust) se watervlak na verlede Woensdag se reën van 2,4% na 8,3% gestyg.
Die Calitzdorpdam is nou 10,5% vol (9,4% laasweek).
Dit is egter die Gamkapoortdam (Ladismith) se stof wat gaan lê het toe dit na 'n jaar van 0% nou 10,7% vol is.
Lees vorige artikels hieronder:
- Opvolg: Troebel drinkwater
- Troebel drinkwater verduidelik
- Opvolg: Water is weer reg vir gebruik
- Oudtshoorn-water weer reg vir gebruik
- Drinkwater moet steeds gekook word
- Chlorine dose at maximum
- Muis of duif dalk in stelsel
- Drinkwater: Hoë bakterieë lesing
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'