Update
OUDTSHOORN NUUS - Die senior bestuurslid van Checkers, wat van aanranding beskuldig is op 'n werker, se interne tugverhoor is afgehandel en die uitslag is onskuldig.
Die kriminele klagte wat ook deur die betrokke werker gelê is, is ook laat vaar volgens die regsterme nolle prosequi.
In kort beteken dit dat die Nasionale Vervolgings Gesag (NVG) 'n sertifikaat uitreik wanneer 'n saak nie hof toe geneem gaan word nie en wanneer hulle voel dat daar nie 'n kans op sukses is nie.
Die saak gaan dus nie vervolg word nie tensy nuwe bewyse aan die lig gebring word, en selfs dan, moet die waarde daarvan oorweeg word teenoor wat alreeds in die dossier is.
Polisie-navraag
Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, sers. Chris Spies, het bevestig dat 'n kriminele klagte van 'aanranding gewoon' gelê is na 'n beweerde voorval wat by Checkers op 29 January plaasgevind het.
"Daar word beweer dat die werknemer in die stoorkamer ingestoot is. Die beweerde voorval is aan die polisie op 11 Maart gerapporteer waarna 'n verdagte gearresteer is op 'n klagte van aanranding gewoon," lui die verklaring.
Checkers-werknemers staak
Woedende werkers van Checkers het verlede Saterdagoggend gestaak omdat hulle glo ongelukkig was omdat dié senior personeellid weer die betrokke dag teruggekeer het werk toe na 'n tydelike skorsing. Checkers is toe vir die res van die dag gesluit en was die volgende dag weer oop vir besigheid. Sedertdien was Checkers elke dag operasioneel met geen verdere protesaksies of insidente wat gerapporteer is nie.
Dié senior bestuurslid het ook intussen weer teruggekeer werk toe.
Shoprite-mediagroep
By navraag het die Shoprite-groep waarvan Checkers deel is, aangedui dat weens respek vir hul werknemers se reg op privaatheid, individuele werknemeraangeleenthede nie in die openbaar bespreek word nie.
"'n Interne proses is gevolg en toepaslike stappe is geneem in ooreenstemming met die wet en die maatskappy se gedragskode, wat poog om die beginsels van regverdigheid, respek en gelykheid vir alle werknemers te bevorder," lui die verklaring.
Agtergrond van die beweerde voorval
Die betrokke werker wat na bewering aangerand is se ouers het op voorwaarde van anonimiteit aan Oudtshoorn Courant gesê dat die voorval volgens hulle seun, wat in sy twintigs is, in die teenwoordigheid van twee kollegas plaasgevind het.
Die werker se ouers sê hul seun is getrau-matiseer deur die voorval en dit is hoekom hulle die media genader het omdat die storie oral rondloop.
"My seun se weergawe is dat dit amper toemaaktyd was, so 18:00, toe een van sy kollegas hom gevra het om 'n klant te help wat 'n groot pak hondekos gesoek het. Hy het na die gang gegaan waar die hondekos gewoonlik is, maar dit nie gekry nie. Hy wou toe die klant inlig dat daar nie die spesifieke hondekos is wat sy soek nie, maar het haar nêrens gesien nie en het aangegaan met sy werk."
Volgens die ouers was hulle seun in die stoor toe hy skielik 'n hand agter sy hemp se kraag gevoel het wat hom heen en weer gepluk het en toe in 'n kantoor ingestoot is waar hy aggressief uitgeskel is.
"As ouer is dit vir my onaanvaarbaar dat my seun so aggressief behandel is in sy werk. Hy het vir 'n lank tyd nie met ons oor die voorval gepraat nie, maar ek het agtergekom dat daar iets groot fout was. Sy borrelende persoonlikheid was net nie meer dieselfde nie. Hy het later met die sak patats uitgekom en dis toe ek besluit het om hom dokter toe te neem vir evaluasie. In die aand kan ek hoor hoe hy sukkel om aan die slaap te raak met al sy gevroetel. My kind is verneder en dit gaan vir hom baie lank vat om oor dit mentally te kom. Ek voel net dat hy moet praat sodat dit nie met ander jong werkers ook gebeur nie. Aan die einde van die dag voel ek net dat jy jou werk moet doen en dat jy met respek behandel word ongeag jou ouderdom. Afgesien van die voorval bly my kind baie lief vir sy werk."
Beoogde plakkaatbetoging, Vrydag 31 Maart
Leon Campher, bekende gemeenskapsleier, aktivis en raadslid van Dysselsdorp Advies-kantoor het intussen aangedui dat daar môre (Vrydag) vanaf 07:00 'n plakkaatbetoging voor Checkers gehou gaan word. Die memorandum sal om 10:00 aan Checkers se streekbestuurder oorhandig word.
Volgens Campher is dié beoogde plakkaat-betoging reeds deur die toepaslike owerhede goedgekeur.
"Ons eis is eenvoudig; dié senior bestuurslid moet spat na die aanranding en daar is ook 'n petisie in die omloop aan diegene wat dit wil ondersteun."
Vorige artikel: Checkers-werknemers ontevrede oor senior bestuurslid terugkeer na werk
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’