Update
OUDTSHOORN NUUS - Die moordsaak teen ‘n man van Royal Heights, Calitzdorp, is Vrydag in die Oudtshoorn-streekhof vir slotargumente tot 5 Mei uitgestel.
Adrian Gerber (29) ontken skuld en sê die oorledene, Elrico Booysen, was die betrokke aand van 21 September 2018, sterk onder die invloed van alkohol toe hy op bierbottels en hout gegly, sywaarts met sy kop teen ‘n muur en toe weer op ‘n sementblad geval het.
Die staat voer aan dat Gerber vir Booysen met die spanhoutjie oor sy kop geslaan en hy later in die Grootte Schuur-hospitaal aan sy beserings beswyk het.
‘n Buurman, Francois Kloppers, het getuig dat hy laataand voor sy huis gesit en drie harde slae gehoor het. Toe hy opkyk het hy gesien hoedat Gerber vir Booysen met die vierde hou oor sy kop slaan.
Volgens Gerber kon Kloppers nie van sy huis sien wat gebeur het nie.
Volgens hom het hy en die oorledene saam met nog vriende die betrokke aand gekuier en gebraai toe Cindy-Lee, die oorledene se vriendin, se ekskêrel daar stilgehou en gevra het of hy saam kan kuier.
Sy het nee gesê. Toe sy in die huis in is, is Booysen agterna omdat hy, volgens Gerber, “baie kwaad” was. Dit is toe dat hy gegly en geval het.
“Elrico was “uit” vir ‘n oomblik en ek en Rachelene April het hom op ‘n stoel gehelp. Hy het toe weer van die stoel geval en iemand het die ambulans gebel omdat hy nie gereageer het nie,” het Gerber getuig.
Die staatsaanklaer, Mervin Saaiman, wou van Gerber weet waarom hulle ‘n bewustelose man op ’n stoel laat sit en nie op ‘n bed of op die grond laat lê en behandel het nie, waarop hy geantwoord het dat hy nie op daardie oomblik daaraan gedink het nie. Hy het ook nie enige beserings aan die oorledene se liggaam gesien nie.
Saaiman het dit aan Gerber gestel dat sy weergawe nie sin maak nie omdat die oorledene nie die erge kopbeserings kon opgedoen het deur net te gly en teen ‘n muur en weer agteroor te val nie.
Streeklanddros Ntsoki Moni wou op haar beurt van Gerber weet hoe die oorledene se skedel dan so erg kon gekraak het soos in die mediese verslag aangedui word.
Rachelene April het onder kruisverhoor behoorlik klei getrap in haar verduideliking oor wat met Booysen gebeur het. Sy het in haar verklaring aan die polisie gesê dat sy nie gesien het teen wat Booysen val nie, maar in die hof, net soos die beskuldigde, getuig dat sy wel gesien het.
Sy het selfs gedemonstreer hoedat die oorledene geval het. Volgens haar het sy nie enige beserings aan Booysen gesien nie en het die ondersoekbeampte nie alles neergeskryf wat sy vir hom gesê het nie.
Sy het ook nie gesien hoedat Booysen die tweede keer geval het nie, omdat sy met haar rug na hom gekeer was. Saaiman het dit aan April gestel dat sy haar getuienis fabriseer om haar kêrel, die beskuldigde, te beskerm.
Die streeklanddros is Ntsoki Moni, Martin Green verskyn namens die beskuldigde wie se borgtog en borgtogvoorwaardes tot sy volgende verskyning verleng is.
Vorige artikels:
- Calitzdorp-moordsaak in Maart voortgesit
- Moordsaak teen man van Calitzdorp uitgestel
- Moordsaak teen Calitzdorp-man uitgestel tot 2023
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’