CALITZDORP NUUS - Die verhoor van 'n man van Royal Heights wat 'n man glo met 'n spanhoutjie oor sy kop geslaan het en van moord aangekla word, is verlede week in die Oudtshoorn-streekhof vir verdere getuienis tot volgende jaar uitgestel.
Die 29-jarige Adrian Gerber pleit onskuldig en sê dat die oorledene, Elrico Booysen, die aand van 21 September 2018 baie dronk was toe hy op bierbottels en hout gegly, sywaarts met sy kop teen 'n muur en toe op 'n sementblad geval het.
Die staat voer aan dat Gerber vir Booysen met die houtpaaltjie oor sy kop geslaan het en hy later in die Grootte Schuur-hospitaal aan sy beserings beswyk het.
'n Buurman, Francois Kloppers, het getuig dat hy die betrokke aand voor sy huis gesit het omdat hy nie lekker gevoel het nie.
Hy het drie harde slae gehoor en toe hy opkyk het hy gesien hoe Gerber vir Booysen met die vierde hou oor sy kop slaan.
Volgens Gerber kon Kloppers nie van sy huis sien wat gebeur het nie.
Volgens hom het hy en die oorledene saam met nog vriende die betrokke aand gekuier en gebraai toe die oorledene se vriendin se ekskêrel daar stilgehou en gevra het of hy saam kan kuier.
Sy het nee gesê en toe sy in die huis in is, is Booysen agterna omdat hy, volgens Gerber, "baie kwaad" was. Dit is toe dat hy gegly en geval het.
"Elrico was "uit" vir 'n oomblik en ek en Rachelene April het hom op 'n stoel gehelp. Hy het toe weer van die stoel geval en iemand het die ambulans gebel omdat hy nie gereageer het nie," het Gerber getuig.
Die staatsaanklaer, Mervin Saaiman, wou van Gerber weet waarom hulle 'n bewustelose man op'n stoel laat sit en nie op 'n bed of op die grond laat lê en behandel het nie, waarop hy geantwoord het dat hy nie op daardie oomblik daaraan gedink het nie. Hy het ook nie enige beserings aan die oorledene se liggaam gesien nie.
Saaiman het dit aan Gerber gestel dat sy weergawe nie sin maak nie omdat die oorledene nie die erge kopbeserings kon opgedoen het deur net te gly en teen 'n muur en weer agteroor te val nie.
Streeklanddros Ntsoki Moni wou op haar beurt van Gerber weet hoe die oorledene se skedel so erg kon gekraak het soos in die mediese verslag aangedui word.
Rachelene April het Vrydag onder kruisverhoor behoorlik klei getrap in haar verduideliking oor wat met Booysen gebeur het.
Sy het in haar verklaring aan die polisie gese dat sy nie gesien het teen wat Booysen val nie maar in die hof net soos die beskuldigde, getuig dat sy wel gesien het.
Sy het selfs gedemonstreer hoedat die oorledene geval het. Volgens haar het sy nie enige beserings aan Booysen gesien nie en het die ondersoekbeampte nie alles neergeskryf wat sy vir hom gêse het nie.
Sy het ook nie gesien hoe Booysen die tweede keer geval het nie omdat sy met haar rug na hom gekeer was.
Saaiman het dit aan April gestel dat sy haar getuienis fabriseer om haar kêrel, die beskuldigde, te beskerm.
Die saak is vir voortsetting tot 27 Januarie 2023 uitgestel nadat die staat sy saak gesluit het. Martin Green verskyn namens die beskuldigde wie se borgtog en borgvoorwaardes tot sy volgende verskyning verleng is.
'Ons bring jou die nuuste Calitzdorp, Karoo nuus'