OUDTSHOORN NUUS - Die verhoor van ‘n man van Royal Heights, Calitzdorp, wat die slagoffer glo met ’n spanhoutjie (dropper) oor sy kop geslaan en van moord aangekla word, is verlede week in die Oudtshoorn-streekhof tot volgende jaar uitgestel.
Adrian Gerber (29) pleit onskuldig en sê dat die oorledene, Elrico Booysen, die aand van 21 September 2018 baie dronk was toe hy op bierbottels en hout gegly, sywaarts met sy kop teen ‘n muur en toe op ‘n sementblad geval het.
Die staat voer aan dat Gerber vir Booysen met die houtpaaltjie oor sy kop geslaan en hy later in die Groote Schuur-hospitaal aan sy beserings beswyk het.
‘n Buurman, Francois Kloppers, het getuig dat hy die betrokke aand voor sy huis gesit het omdat hy nie lekker gevoel het nie.
Hy het drie harde slae gehoor en toe hy opkyk gesien hoe Gerber vir Booysen met die vierde hou oor sy kop slaan.
Volgens Gerber kon Kloppers egter nie van sy huis sien wat gebeur het nie.
Volgens hom het hy en die oorledene saam met nog vriende die betrokke aand gekuier en gebraai toe Cindy-Lee, die oorledene se vriendin, se ekskêrel daar stilgehou en gevra het of hy saam kan kuier.
Sy het nee gesê en toe sy in die huis in is, is Booysen agterna omdat hy, volgens Gerber, “baie kwaad” was. Dit is toe dat hy gegly en geval het.
“Elrico was “uit” vir ‘n oomblik en ek en Rachelene April het hom op ‘n stoel gehelp. Hy het toe weer van die stoel geval en iemand het die ambulans gebel omdat hy nie gereageer het nie,” het Gerber getuig.
Die staatsaanklaer, Mervin Saaiman, wou van Gerber weet waarom hulle ‘n bewustelose man op ’n stoel laat sit en nie op ‘n bed of op die grond laat lê en behandel het nie, waarop hy geantwoord het dat hy nie op daardie oomblik daaraan gedink het nie.
Hy het ook nie enige beserings aan die oorledene se liggaam gesien nie.
Saaiman het dit aan Gerber gestel dat sy weergawe nie sin maak nie omdat die oorledene nie die erge kopbeserings kon opgedoen het deur net te gly en teen ‘n muur en weer agteroor te val nie.
Die saak is vir voortsetting tot 27 Januarie 2023 uitgestel nadat die staat sy saak gesluit het.
Martin Green verskyn namens die beskuldigde wie se borgtog en borgtogvoorwaardes tot sy volgende verskyning verleng is.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'