OUDTSHOORN NUUS - "As iemand vir my sê hy gaan nie stem nie, sal ek vir hom sê hy moet, want dit is elkeen van ons se plig. Jy kan nie sê jy wil nie, want wie besluit dan wie ons leiers gaan wees?"
Só sê die 97-jarige Johanna Stander, of "sommer tannie Hanna", wat Maandagoggend 2 Oktober haar kruisie in Wyk 7 gaan trek het. Haar seun, Steven Bence, het haar tot by die stemlokaal geneem.
Sy vertel dat sy met vorige verkiesings sommer van haar huis in Adderleystraat af gestap het om te gaan stem, maar dat sy sedert Desember by haar kinders naby Langenhoven Gimnasum woon.
"Ek het vandat ek as jong meisie stemreg gekry het, nog nooit een verkiesing gemis nie!"
Sy onthou egter dat sy een jaar byna nie gestem het nie, want sy kon niemand kry om haar stemlokaal toe te neem nie. "Doerie jare het ons by die Drilsaal gestem, en ek was so benoud. Gelukkig het Issie Barron my sommer in die straat kom oplaai, en ek het dit net-net gemaak - ek was die heel laaste een!"
Gevra hoe sy besluit vir wie om te stem, het sy gesê 'n mens moet deeglik besin en kyk watter partye doen wat hulle sê. "'n Mens kan mos nie in die toekoms insien nie, maar jy kan kyk wat al gedoen is. 'n Mens kyk wat die behoefte is en wie dit die beste kan oplos. Dan moet jy ook nie net gaan stem nie, jy moet ook bid vir die een vir wie jy gestem het, want hulle het ook leiding nodig. Ons kan nie vir hulle stem en hulle net so los nie. Ons moet hulle ondersteun en ook verantwoordelik hou," het sy Dinsdag tydens 'n gesprek met Oudtshoorn Courant gesê.
Op 97 is tannie Hanna se verstand nog klokhelder. "Ek is besig om blind te raak, ek hoor sleg en die ding met my longe en my hart wat ek al van kleins af het, is maar altyd daar, maar dit is mos maar deel van die lewe. Ek aanvaar daar is goed wat ek nie meer kan doen nie, maar ek kan nog my deel doen, soos om te gaan stem."
Tannie Hanna is in Knysna gebore en is op sesjarige ouderdom by die kloosterskool in Oudtshoorn ingeskryf. Toe sy agt was, het haar gesondheid 'n groot terugslag gehad. "Die dokters het my ouers laat kom en gesê ek gaan dit dalk nie maak nie, maar 89 jaar later is ek nog hier!"
Sy onthou die dag en datum van verskeie gebeure asof dit gister was - soos 2 November 1980, toe 'n motor haar in Adderleystraat omgery het, en die dag toe sy in haar tuin geval het en haar arm en skouer gebreek het, en die bure oor die heining moes klim om haar te help.
Sy het twee seuns en twee dogters gehad. "My een dogter is vroeg oorlede, en my een seun is verlede jaar op 76 oorlede. Ek het agt kleinkinders en 14 agterkleinkinders," sê sy.
Hoe voel sy oor die toekoms en oor die land? "Ons moet almal net leer om te hoop, om liefde te gee en om geduld te hê, dan sal ons vrede hê. Ons moet sag wees, soos my pa was. En ons moet nooit ophou bid nie. Deur al my donkerste tye het gebed my gedra," sê sy voordat sy groet en saam deur toe stap om op die stoep in die oggendson te gaan sit.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’