Update
OUDTSHOORN NUUS - Die bestuurder van die wit BMW waarin die matrikulant, Marilize Nortier, verlede jaar gesterf het, word binnekort gedagvaar vir strafbare manslag, roekelose en/of nalatige bestuur en die verlaat van 'n ongelukstoneel sonder om hulp te verleen.
Die direkteur van openbare vervolging (DOV) het Vrydagmiddag die ondersoekspan in Oudtshoorn in kennis gestel dat daar met die vervolging van die jong bestuurder begin word.
Sodra die dossier by die hof in Oudtshoorn afgelewer word, sal die jong man gedagvaar word om in die hof te verskyn.
Dit, presies 'n jaar nadat die ongeluk op 22 September verlede jaar in die vroeë oggendure gebeur het.
Plaaswerkers het die motor opgemerk waar dit op die passasierskant in die water gelê het en besef daar is iemand in die motor. Die Oudtshoorn Courant was op die toneel kort nadat die motor omgetrek is om weer op sy wiele te staan en reddingswerkers was besig om die wrak oop te nsy om die liggaam uit te haal.
Marilize Nortier
Met die aankoms van die koerant op die toneel het dit geblyk dat iemand die bestuurder langs die pad gekry het en dat hy later na die toneel teruggekeer het. Hy is egter kort daarna weer weg.
Volgens omstanders het hy aangedui dat hy nie bewus was daarvan dat daar nog iemand in die motor was nie.
'n Nadoodse ondersoek het bevind dat Marilize nog gelewe het nadat die BMW op sy dak in die kanaal beland het en as gevolg van verdrinking dood is.
Lees meer oor die ongeluk in Donderdag se uitgawe van die Oudtshoorn Courant.
Vorige artikels:
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'