Update
OUDTSHOORN NUUS - Meer as 'n jaar nadat Marilize Nortier, 'n matrikulant van Oudtshoorn, in 'n motorongeluk gesterf het, is die saak uiteindelik in die hof.
Marilize was 'n passasier in 'n wit BMW wat verlede jaar in die vroeë oggendure van Sondag 22 September in 'n watersloot langs die grottepad omgeslaan het. Die bestuurder het die ongelukstoneel verlaat en Marilize, wat nog in haar sitplek vasgegordel was, het in die water van die kanaal verdrink.
Daar was hewige reaksie van familie van Marilize sowel as van die breë gemeenskap omdat die bestuurder nie op die toneel gebly het en haar gehelp het nie.
Terwyl Oudtshoorn Courant op die ongelukstoneel was, het dit geblyk dat die man deur 'n verbyganger langs die pad opgelaai is, maar dat hy later weer teruggekeer het. Hy het toe aangedui dat hy nie geweet het dat daar iemand anders in die motor was nie. Hy is kort daarna weer weg van die toneel en volgens omstanders het 'n familielid hom kom haal.
Hoewel Sydney Berry (23) reeds vroeër in 'n nasionale tydskrif as die bestuurder geïdentifiseer is, het Oudtshoorn Courant gewag totdat hy in die hof verskyn voordat sy naam bekendgemaak is.
Hy het verlede Donderdag, 26 November, sy eerste verskyning in die landdroshof in Oudtshoorn gemaak. Hy word aangekla van strafbare manslag. Sy pa, die ondersoekbeampte en lede van die media, was in die hof. Berry se regsverteenwoordiger, Bulelani Jerome Bans van Dercksens Inc Attorneys Knysna-George, het die media versoek om geen foto's in die hof te neem nie en ook om nie foto's van sy kliënt wat op sosiale media verskyn, te gebruik nie.
Alhoewel die hofverskyning bloot was om 'n datum vir verdere instruksies en die beskikbaarstelling van die dossier vas te stel, het Bans gevra om die hof toe te spreek.
Hy het aan landdros René Gerber gesê dat hy vir sy kliënt se lewe vrees. Volgens hom het hy inligting bekom dat sy kliënt se lewe moontlik bedreig word.
Gerber het hom onderbreek en voorgestel dat hy die saak op die korrekte forum aanspreek wat waarskynlik daarop dui dat Bans 'n beskermingsbevel moet bekom. Daar is nie melding gemaak van die aard van die dreigemente wat ontvang is nie en ook nie uit watter oord dit ontvang is nie.
Die saak is tot 14 Desember uitgestel.
Vorige artikels:
- Berry verskyn in hof
- Saak teen bestuurder begin
- Dossier nog nie afgelewer nie
- DOV vervolg na 'n jaar
- Bestuurder word uiteindelik vervolg
- Troosdiens vir botsingslagoffer
- Jong botsingslagoffer het verdrink
- Vroeë oggend grotte-pad ongeluk
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'