OUDTSHOORN NUUS - Sydney Berry, die 23-jarige bestuurder van die BMW waarin Marilize Nortier (18) verlede jaar op 22 September gesterf het, het vandag in die hof verskyn.
Dit was Berry se eerste hofverskyning op ‘n klag van strafbare manslag.
Berry se regsverteenwoordiger, Bulelani Jerome Bans van Dercksens Inc Attorneys Knysna-George, het die media versoek om geen foto’s in die hof te neem nie en ook om nie foto’s van sy kliënt wat op sosiale media verskyn, te gebruik nie.
Bans het ook die hof toegespreek en sy kommer oor sy kliënt se veiligheid uitgespreek.
Landdros René Gerber het Bans in die rede geval en aan hom genoem dat hy die korrekte proses moet volg indien hy van mening is dat sy kliënt se lewe in gevaar is.
Bans het aangedui dat hy reeds besig is met stappe om te verseker dat sy kliënt nie bedreig word nie en wou dit bloot in die hof noem. Gerber het die saak tot 14 Desember uitestel. Die aanklaer in die saak is Jacolize Jordaan.
Nortier is dood nadat die BMW waarin sy ‘n passasier was in die vroeë oggendure op 22 September 2019 die pad naby Buffesldrift verlaat, gerol en in ‘n waterkanaal beland het.
Berry het na bewering die ongelukstoneel verlaat en verbygangers het met ligdag die voertuig opgemerk en ontdek dat die oorledene steeds in die motor vagegespe was. Haar kop was onder die water en ‘n nadoodse ondersoek het bevind dat sy verdrink het.
Marilize Nortier
Vorige artikels:
- Saak teen bestuurder begin
- Dossier nog nie afgelewer nie
- DOV vervolg na 'n jaar
- Bestuurder word uiteindelik vervolg
- Troosdiens vir botsingslagoffer
- Jong botsingslagoffer het verdrink
- Vroeë oggend grotte-pad ongeluk
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'