OUDTSHOORN NUUS - Dit is onverstaanbaar hoe iemand helder oordag ses bougenvillea-plante onder mense se neuse kan steel. Dit was die opmerking van 'n moedelose Johan Breunissen vandag toe hy besef het daar is tussen 10:00 en 12:00 vandag ses van die bouegenvillea-plante wat hy in dromme in Hoogstraat geplant het, gesteel is.
Die plante was deel van 17 plante wat in dromme voor historiese huise in Hoogstraat geplant is as deel van die Erfeniswandelroete wat Donderdagaand geopen is.
Breunissen het die 17 plante uit sy eie sak aangeskaf as deel van die projek wat hy van tapel gestuur het.
"Ons het Sondagoggend gesien een van die plante is Saterdagnag verwyder, maar vanoggend was daar nog 16 oor en toe ek net na 12 besef daar het nog verdwyn het ek besef daar is ses weg. Dit maak 'n mens regtig moedeloos."
Nog 'n sakeman het vroeër vandag die Oudtshoorn Courant laat weet dat groepe kinders in Hoogstraat ronddwaal, in asblikke grou en aan geparkeerde motors se deure pluk.
"Ons gaan deur 'n traumatiese tyd wat beigheid aanbetref en as wetteloosheid in die strate toegelaat word sonder ingryping van wetstoepassers, gaan ons nog groter skade ly," het die persoon gesê.
Intussen het Breunissen gesê hy loof 'n beloning uit aan enigiemand wat inligting het oor die gesteelde plante wat daartoe kan lei dat die kwaaddoeners gevang word en die plante terugbesorg word.
Kontak hom by 082 380 2984 of die Oudtshoon Courant by 083 467 1522. Hierdie voorval volg nadat verskeie wolkomberse laasnag van bome en pale afgesteel is.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'