OUDTSHOORN NUUS - Die beroemde Irans-Nederlandse skrywer Kader Abdolah en Wium van Zyl, emeritusprofessor in Afrikaans en Nederlands aan die Universiteit van Wes-Kaapland, digter en vertaler het Vrydag 13 Oktober Arbeidsgenot besoek om CJ Langenhoven se Afrikaanse vertaling van The Rubaiyat of Omar Khayyam, Die Rubaiyat van Omar Khayyam te besigtig.
Abdolah is ’n Persiese skrywer (Iran is die hedendaagse naam vir Persië.) Hy moet as banneling deesdae Nederlands skryf.
Hy het Duisend-en-een Nagte uit Persies verwerk in Nederlands, volgens hom ’n daad van verlange.
Van Zyl het dit weer na Afrikaans vertaal om dieselfde rede as Langenhoven. Khayyam is die een Persiese digter wat wêreldberoemd geword het. Abdolah is vandag een van die heel bekendste Nederlandse skrywers en sy werke word wyd vertaal.
Albei van hulle was by die Woordfees vir die bekendstelling van Van Zyl se vertaling.
Abdolah is 'n liefhebber van Omar Khayyam se gedigte, The Rubaiyat of Omar Khayyam. Dié bundel vol kwatryne vaar deur baie van die groot temas van poësie soos liefde, wyn, God en die betekenis van die mens se bestaan in die reusekosmos.
Langenhoven het Rubaiyat in Afrikaans vertaal, 'n paar jaar voor Die Bybel in Afrikaans vertaal is. Die oorspronklike, handgeskrewe vertaling word by Arbeidsgenot agter glas, as deel van die uitstalling gebêre.
Dit word in 'n spesiale houtkissie waarop die naam van die bundel gegraveer is gestoor.
Volgens Van Zyl het hy en Abdolah met Abdolah se vorige besoek aan Suid-Afrika, ongeveer 20 jaar gelede, die vertaling gesien, maar het niemand ooit foto's van die geleentheid geneem nie.
"Dit is so 'n besonderse geleentheid en voorreg om die boek te kon besigtig en selfs vas te hou. Dit is nie 'n geleentheid wat mens net verby wil laat gaan sonder om dit vas te vang nie. Dit was werklik iets besonder."
- Omar Khayyam (1048 - 1123) was 'n Persiese wiskundige, filosoof, sterrekundige en digter, wat bekendheid verwerf het vir sy Rubaiyat. Die boek is 'n geesdriftige en diep humanistiese viering van lewe, liefde en drank. Die bekendste Engelse vertaling (of eerder verwerking) is dié van die Engelse skrywer Edward Fitzgerald. Fitzgerald is in 1809 gebore en het sy eerste stel Khayyam-geïnspireerde verse is in 1859 gepubliseer.
Irans-Nederlandse skrywer Kader Abdolah en prof. Wium van Zyl laai deur 'Die Rubaiyat.'
'n Foto van CJ Langenhoven waar hy besig is om te werk aan 'Die Rubaiyat' van Omar Khayyam. Foto's: Liezl van Niekerk
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’