OUDTSHOORN NUUS - Solidariteit Helpende Hand het Donderdagaand 1 Oktober inwoners, boere en sakelui by die Koöperasiesaal in Oudtshoorn toegespreek.
Hannes Noëth van Helpende Hand en adv. Gerrie Nel van AfriForum se privaatvervolgingseenheid was die gassprekers.
Noëth het gewaarsku dat Suid-Afrika se huidige maatskaplike benadering, wat volgens hom eerder op versorging as bemagtiging fokus, afhanklikheid skep en op die lange duur onvolhoubaar is.
Volgens hom moet groter klem op opleiding en opvoeding geplaas word om mense in staat te stel om die siklus van armoede en werkloosheid te breek en ’n volhoubare inkomste te verdien.
Hy het daarop gewys dat, alhoewel Helpende Hand duisende kinders met etes ondersteun, opleiding steeds ’n kernfokus van die organisasie is.
In 2026 is sowat R75 miljoen se studiebeurse aan meer as 1 000 studente beskikbaar gestel, grootliks befonds deur Ons Winkels en ander skenkings. “As jy enigiets met ’n R1 kan doen, belê dit in iemand se opvoeding,” het Noëth gesê.
Hannes Noëth van Helpende Hand. Foto: Louise Mouton
Die rol van die NVG
Nel het op sy beurt Suid-Afrika se strafregstelsel en die rol van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) bespreek. Volgens hom sukkel die NVG sedert ongeveer 2017, toe dit ’n ernstige knou gekry het, steeds om te herstel.
Hy het ook kritiek uitgespreek op die toenemende gebruik van kommissies van ondersoek. Volgens Nel het min vervolgings uit die vorige agt kommissies voortgevloei, en is daar geen waarborg dat die Madlanga-kommissie anders sal wees nie.
Hy het beklemtoon dat die uiteindelike doel nie net blootlegging of opspraakwekkende arrestasies moet wees nie, maar suksesvolle vervolging.
AfriForum se privaatvervolgingseenheid is in 2017 gestig nadat Nel deur die organisasie genader is. Volgens hom is tot 90% van die eenheid se aansoeke om hulp afkomstig van mense wat nie AfriForum-lede is nie, insluitend mense uit ander kultuurgroepe.
Hy het verskeie sake aangehaal waarin vervolging aanvanklik geweier is, maar AfriForum se betrokkenheid uiteindelik tot vervolging gelei het.
Nel het voorspel dat privaat deelname aan dienste soos vervolging, soortgelyk aan ander sektore, waarskynlik in die toekoms ’n al groter rol sal speel.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’