Update
OUDTSHOORN NUUS - André Hattingh, stigter van Pediatric Care Africa (PCA), is reeds 'n week besig met sy 500 km-donkiekartoer. Verlede week se wind en reën het hulle glad nie gestuit in hul missie om kinders met serebrale gestremdheid in die Karoo te help nie.
Die projek, Donkeys Delivering Dreams, is op 8 April van stapel gestuur met die doel om fondse in te samel vir aangepaste rystoele wat die lewenskwaliteit en onafhanklikheid van hierdie kinders sal verbeter.
Pediatric Care Africa is in 2017 gestig en het sedertdien 'n merkwaardige verskil in die lewens van duisende Suid-Afrikaners gemaak. Dié nie-winsgewende organisasie het reeds gratis mediese sorg aan sowat 8 000 mense verskaf, waarvan byna 2 000 kinders was.
Boonop het 148 kinders tot dusver deur PCA se hulp toegang tot broodnodige, gratis operasies gekry.
Hattingh se reis, wat oor 17 dae strek en 'n maksimum van 30 km per dag teen stapspoed dek, volg 'n sirkelroete tussen De Rust, Middelplaas, Dysselsdorp, Oudtshoorn en Calitzdorp.
Weens veiligheid en padregulasies word die rit uitsluitlik via grondpaaie onderneem. In Oudtshoorn beplan die span om verskeie skole te besoek, waar hulle die doel van die projek sal deel en bewusmaking rondom serebrale gestremdheid sal bevorder.
Volgens sy vrou, Joyce Crompvoets, is die aangepaste buggies ontwerp om aan die unieke behoeftes van elke kind te voldoen, en word dit in oorleg met arbeidsterapeute voorsien. "Hierdie hulpmiddels gee die kinders vlerke - al is dit op wiele.
Dit verander lewens op 'n tasbare manier," sê sy.
Oudtshoorn Courant was Dinsdagmiddag, 15 April, in gesprek met Hattingh op die Surval-pad buite Oudtshoorn. Hy het kortliks verduidelik dat hy nou onderweg is na 'n veearts wat die donkies sal ondersoek om seker te maak hulle is in 'n goeie toestand.
Hulle is tans op dag agt en het reeds 200 km afgelê. "Donkies is deel van die Karoo en baie spesiale diere wat gewoonlik onderskat word." Hattingh maak gebruik van ses donkies om die tog te voltooi en word hul gereeld omgeruil. Volgens hom is donkies baie slimmer as wat mense besef.
Vorige artikels:
- Donkies ry vir kinders
- 7 000km ten bate van kinders
- Motorfietse brul vir mediese sorg
- Ride for a Child charity coming to the Garden Route
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’