Verlede Vrydagaand het die plesierrit van vier seuns byna tragies geëindig toe hulle manewales in 'n Toyota, wat aan een van hulle se ma behoort, die motor op sy dak laat beland het.
Die ongeluk het in Quarrystraat gebeur waar die motor eers 'n tuinmuur wat nog in aanbou is getref het en daarna wiele in die lug op 'n hoop bakstene beland het.
Getuies het aan die polisie vertel dat een van die insittendes weggehardloop het na die ongeluk, maar deur vriende teruggebring is na die toneel toe. Niemand is ernstig beseer nie. Die polisie ondersoek 'n klag van dronkbestuur en dit blyk dat daar ook onduidelikheid is oor wie die motor ten tye van die ongeluk bestuur het. Drie van die seuns is glo nog op skool.
'n Egpaar van Kaapstad het Sondag 'n noue ontkoming gehad nadat hulle motor op die Matjiesrivierpad buite beheer geraak en omgeslaan het. Beide is per ambulans na die hospitaal op Oudtshoorn geneem. Die insittendes is op die toneel deur mediese personeel behandel en daarna per ambulans na die Oudtshoorn-hospitaal geneem. Volgens mense op die toneel het die vrou hoofbese-rings opgedoen terwyl die man slegs lig beseer is.
Woensdag was daar twee ongelukke binne enkele ure na mekaar waar motors voor aankomende verkeer ingedraai het. Die eerste ongeluk het omstreeks tienuur in Voortrekkerweg plaasgevind toe 'n Toyota Corolla vermoedelik 'n U-draai gemaak het en deur 'n VW Fox met 'n Bellville-registrasienommer, wat in die teenoorgestelde rigting op pad was, getref is. Niemand is beseer nie.
Slegs twee ure later het 'n jong boer van Riversdal uit Baron van Reedestraat regs gedraai in Kerkstraat en met sy Isuzu-bakkie voor 'n aankomende GWM-bakkie beland. Die slag van die botsing het die Isuzu in die rondte laat tol sodat dit weer in die rigting vanwaar dit gekom het gekyk het. Ook by die botsing was daar geen ernstige beserings nie.
_494305739.jpg)
'n Man en vrou van Kaapstad is lig beseer toe hulle motor Sondag op die Matjiesrivierpad omgeslaan het.
ARTIKEL EN FOTO'S: HANNES VISSER, OUDTSHOORN COURANT-REDAKTEUR