OUDTSHOORN NUUS - Nog 'n verdagte is in hegtenis geneem in verband met die moord op stafsersant Preston Titus.
Speurders van Oudtshoorn het die 30-jarige Justice Mooi Dinsdagaand in Port Elizabeth aangekeer en hom Oudtshoorn toe gebring waar hy gister (Donderdag) in die hof verskyn het.
Landdros Roelf Konstabel het die saak tot 28 Desember uitgestel sodat 'n regshulpprokureur vir Mooi aangewys kan word. Hy bly in aanhouding tot dan.
Volgens kaptein Malcolm Pojie, Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, is 'n identikit van nog 'n verdagte opgestel en word nog arrestasies verwag.
Die nuus van Mooi se arrestasie is bevestig terwyl die borgtogaansoek van nog 'n verdagte, Cabiso Klip (23), in 'n stampvol hof aangehoor is.
Die polisie het Klip en 'n 37-jarige vrou verlede week in verband met die moord op Titus in hegtenis geneem.
Die vrou is verlede Vrydag vrygelaat.
Titus is in die vroeë oggendure van Saterdag 2 Desember in sy huis op die weermagbasis dood aangetref.
Hy het verskeie steekwonde aan sy lyf gehad.
Klip se borgtogaansoek Woensdag, het gepaard gegaan met groot belangstelling en 'n protesoptrede buite die hof teen moontlike borg.
Hy het verlede Vrydag sy eerste verskyning gehad.
Landdros Roelf Konstabel het die borgtogaansoek na Maandag 18 Desember uitgestel.
'n Sterk polisieteenwoordigheid binne en buite die hof het toegang tot die hof beheer.
'n Groot groep gemeenskapslede was, tot hul ontsteltenis, nie in die hof toegelaat nie omdat die hof reeds té vol was.
Volgens die hoofstaatsaanklaer, adv. Goodman Joxo, wat die saak vir die staat hanteer, is die klagtes teen Klip sameswering om moord te pleeg sowel as moord.
Joxo het gesê die ondersoekbeamptes het selfoonrekords na die moord verkry en volgens dié rekords was Klip die nag van Titus se dood in die omgewing van die weermagbasis waar die moord gepleeg is.
Adv. Benito Metembo, wat in opdrag van Clyde Avontuur namens Klip optree, het kapsie aangeteken omdat hy voel dat dit nie 'n verhoor is nie en die meriete van die saak nie in 'n borgtogaansoek belangrik is nie.
Konstabel het dit egter toegelaat.
Joxo het voortgegaan en gesê dat Klip, terwyl hy in aanhouding by die polisie was, 'n bekentenis afgelê het waarin hy homself inkrimineer.
Die broer van die vermoorde Preston Titus, Howard Titus was Woensdag by die hof tydens Klip se borgtogaansoek. Hy is agter in die middel met sy vrou voor hom.Hulle het uit die Oos-Kaap gekom om die saak by te woon. Foto: Liezl van Niekerk
"Die dood van die oorledene was sameswering en nog persone is by die grusame moord betrokke," het Joxo gesê.
Volgens hom is die ondersoekbeamptes in die saak Maandag inderhaas Port Elizabeth toe na hulle leidrade opgevolg het en nog 'n verdagte (Mooi) is in hegtenis geneem.
Terwyl Joxo besig was om sy saak voor die hof te stel het kapt. Deon Bouwer en ao. Martin le Roux by die hof ingestap. Joxo het aangedui dat hulle pas teruggekeer het van Port Elizabeth af.
"Die moord was brutaal en dit is nie in die belang van geregtigheid om oorhaastig met dié borgtogaansoek te wees nie."
Metembo het gesê hulle gaan definitief die bekentenis in die hof betwis.
"Daar is baie streng reëls wat deur die polisie gevolg moet word wanneer 'n bekentenis afgelê word. Elke persoon in aanhouding is geregtig daarop om 'n prokureur teenwoordig te hê en my kliënt is dit geweier," het hy gesê.
Volgens Metembo het Klip se ma hom gevra om by die hof vir 'n bevel aansoek te doen sodat Klip sy prokureur by hom mag hê terwyl hy deur die polisie ondervra word.
"Eers na die hof die bevel toegestaan het, kon my kliënt sy prokureur, mnr. Avontuur, sien."
Metembo het verder gesê die borgtogaansoek word onnodig uitgerek en dit blyk of Klip vooruitlopend gestraf word vir 'n misdaad waarop hy nog nie skuldig bevind is nie.
(Sien berig oor die protesoptrede op bladsy 3 van vandag se Oudtshoorn Courant).
Lees vorige artikels:
- Weermagmoord: Borgtogaansoek uitgestel
- Weermagmoord: Nog een in hegtenis
- Weermagmoord: Optog buite hof
- Verdagte in weermagmoord in hof
- Vermoorde soldaat gehuldig
- 2 in Hegtenis vir moord
- Man en vrou gearresteer in Titus-moord
- ANC-Raadslid tans nie in hegtenis
- Geen arrestasie na moord
- Eggenoot van raadslid sterf
ARTIKEL: lIEZL VAN NIEKERK, OUDTSHOORN COURANT-JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'