PRINS ALBERT NUUS - Sy jaar in Prins Albert was twaalf maande van inspirasie – die energie van die omgewing en sy mense, die grootse Swartberg, die ligspel op die landskap en die helderheid van die hemelruim. So vertel die houtdrukkunstenaar Joshua Miles wie se werke tans in die Prins Albert-kunsgalery uitgestal word.
Miles, in sy vyftigs, is ’n boorling van Ceres en het grafiese kuns aan die Kaapse Technikon (soos dit toe bekendgestaan het) en die Michaelis-kunsskool van die Universiteit van Kaapstad gestudeer. Hy het omvattend oorsee getoer om die wêreld se grootste kunswerke te bekyk en bestudeer, en hom daarna in Baardskeerdersbos gevestig, waar hy betrokke is by die tuiskunsuitstallings van plaaslike kunstenaars. Hy het die afgelope dekades aan talle groepuitstallings deelgeneem en solouitstallings gehou. Sy werke hang in die kantore van verskeie groot ondernemings, op wynplase en in kunssentra in Suid-Afrika en oorsee.
Miles is ook die organiseerder van die sesmaandelikse Open Studios-uitstalling van die werke van plaaslike kunstenaars in hul tuistes en ateljees.
Hy en sy gesin het sowat ’n jaar gelede na die dorp verhuis, maar maak nou gereed om na Skotland te emigreer, waar sy seun sy tersiêre opleiding in argitektuur wil volg.
Die jaar in Prins Albert was vir hom baie spesiaal, vertel hy. “Daar is definitief ’n sterk energie in die omgewing. Die groot, plat Karoo word skielik onderbreek deur die ongelooflik dramatiese Swartberg. Die helderheid van die lug en lig, veral vroegoggend en laatmiddag, het my beïndruk en oorreed om dit in ink te probeer vaslê. Ek hou van die bietjies water by ’n windpomp of waterbak, want die kontras is so groot met die dorheid daarom.”
En dan is daar die dorpenaars, sê Miles, wat meestal “vol glimlag en groet” is.
Hy is hartseer om die Karoo binnekort te verlaat, maar sien uit na sy gesin se nuwe lewe in die kunstenaarsdorp Kirkcudbright in Skotland. Miles se vrou, Sarah, is ’n Skot en hulle sal nou nader aan haar familie woon.
'Ons bring jou die nuutste Prins Albert, Klein Karoo nuus'