OUDTSHOORN NUUS - Die bou van Oudtshoorn Diereherberg (ODH) se aanleg op die Rooiheuwelpad in Oudtshoorn is na die Desembervakansie weer volstoom aan die gang, sê Ansa de Jager van ODH.
ODH het reeds in Julie 2023 begin beplan aan hul eie aanleg sodat diere, wat deur hulle by die munisipale skut aangehou word, geskuif kan word. 'n Stuk grond, wat aan hulle geskenk is, is kort daarna skoongemaak, waarna verdere ontwikkeling stadig begin het. Die bou van die aanleg hang hoofsaaklik van skenkings en donasies af.
Oudtshoorn Courant het Maandag 15 Januarie by die aanleg gaan inloer om te kyk hoe hulle vorder en om by De Jager uit te vind wat nog alles gedoen moet word.
'n Hele aantal hokke en 'n area waarin honde sal kan rondhardloop is reeds opgerig, met 'n hand vol skuilings wat reeds honde huisves.
Volgens De Jager het die eintlike bouproses eers einde 2023 begin.
"Dit was 'n moeilike tyd om te begin, want meeste bouers was reeds met vakansie en ander besig om hulle laaste take van die jaar klaar te maak. So ons het regtig gesukkel om mense te kry om ons te help om dit wat ons wou doen, gedoen te kry," sê sy.
Die hardloopareas wat buite-om die aanleg strek, waarvan ODH poog om agt te bou, is 4 m x 20 m groot. "Ses van daardie areas gaan ons in die helfte deel dat ons nog hokke kan opsit. Dan is daar twee ander areas van 6 m x 25 m wat ons 'tienerkampe' gaan wees."
Van die hokke wat reeds omhein is en wag vir skuilings om gebou te word voordat honde daarin gehuisves kan word.
De Jager voeg by dat al die kampe klaar is, maar dat die hokke self nog opgerig moet word voordat enige honde daarin geplaas kan word. Die hokke word volgens haar uit vibracrete gebou - belangrike materiaal wat hulle dringend nodig het, nuut of tweede-hands. Hierdie hokke is 3 m x 3 m en huisves slegs twee honde met genoeg beskerming teen die son. Daar is selfs 'n stukkie gras voor hul hok. Hierdie gras is reeds op plekke aangeplant en moet nou kans kry om te groei. Die honde word nie beperk tot hul hokke nie.
Hierdie is een van die skuilings wat so ver by die Oudtshoorn Diereherberg se aanleg op die Rooiheuwelpad gebou is. Daar is ook genoeg spasie voor die skuiling vir die honde om rond te loop.
"Ons is baie bevoorreg dat ons grond gekry het en ons moet die beste maak van dit wat ons het om die honde te red in die proses," sê sy.
Verder is 'n sekuriteitshuisie ook opgerig. "Tans wil ons ook twee spreiligte opsit en ook 'n skeepshouer (storage container) wat as kantoor en stoorplek sal dien. Ons het ook bakstene ontvang waarmee ons 20 baksteenhokke gaan oprig, wat later tot 40 sal styg."
Sy voeg by dat die ODH-honde wat steeds in die munisipale skut aangehou word so gou as moontlik verwyder moet word.
Verder gaan daar, volgens De Jager, nog bome aangeplant word. "Alles het gebeur aan die einde van verlede jaar en met die bome, en baie ander goed, was daar net nie voorraad nie."
De Jager het plaaslike maatskappye en inwoners aangemoedig om betrokke te raak by die projek.
"Enige skenking, donasies of hulp sal baie waardeer word. Al kom plant iemand vir ons 'n boom. Besighede wat betrokke raak sal natuurlik erkenning ontvang," sê sy.
Daar is ook 'n opsie vir borgskappe van R2 500 per jaar, waarna die besigheid se advertensiebord teen die omheining geplaas sal word.
Skakel De Jager by 072 070 5977 om meer uit te vind.
Vorige artikels:
Oponthoud by munisipale skut en diereherberg
Oudtshoorn Diereherg bou eie perseel
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’